<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Begin só ‘n buurtwag

 
News : 28 Mar 2013 1329 Viewed By NoordNuus reporter 0

Terwyl die Valke Buurtwag in Mokopane nou al vir sewe jaar skouer-aan-skouer met die polisie misdaad bestry, is daar in Lephalale baie inwoners wat hul bure nader om ‘n buurtwagstelsel op die been te bring.
Noordelike Nuus het gaan kers opsteek by Theo Louw van die Valke Buurtwag in Mokopane en Henk du Plessis van Molalatau Sekuriteit in Lephalale om uit te vind hoe ‘n mens ‘n buurtwag stig en hoe om dit dan te bestuur.
Daar is reeds verskeie stelsels in Lephalale op die been, maar nie een amptelike buurtwag nie.  In Oberholserstraat word inwo-ners per sms gewaarsku indien daar enige misdaad sou voorkom. Inwoners skakel dan al hulle ligte aan en die polisie en Molalatau Sekuriteit se beheerkamer word gekontak. Die facebookblad Buurtwag Onverwacht en Ellisras dien dieselfde doel en stuur ook ge-reeld waarskuwings aan sy 218 volgelinge uit. Inwoners van Blinkkoolstraat in Onverwacht het ook die week telefoonnommers uitgeruil om mekaar bewus te maak van die bewe-gings van drie verdagtes wat die gebied die afgelope week geteiken het.
Volgens Louw moet ‘n buurtwag baie goed georganiseer en bestuur word. Die ideaal sou wees om ‘n sambreelorganisasie te stig en die dorp in wyke op te deel. Elke wyk is dan
verantwoordelik om die strate daar te patroleer. Buurtwagpatrollievoertuie moet ook duidelik herkenbaar wees omdat sigbaarheid misdaad help voorkom.
Louw sê egter dat ‘n buurtwag slegs as die oë en ore van die plaaslike polisie en sekuriteitsmaatskappye moet dien. Hy meen ‘n goeie verstandhouding met die polisie is van kardinale belang. Goeie kommunikasie tussen lede is ook baie belangrik en vir dié doel werk handradio’s baie goed. In Mokopane het 53 families handradio’s. Saam met die sekuriteitswerkers en polisielede is daar sowat 90 handradio’s wat tans vir buurtwagdoeleindes  gebruik word.
“Saans omstreeks 20:00 kontak ons elke radiopunt om te hoor of alles nog in orde is. Dit help veral waar bejaardes alleen in huise woon.”
Louw sê die reaksietyd van die  buurtwag is baie goed  en dat verskeie misdadigers in die verlede aangekeer is omdat lede van die buurtwag paaie rondom die misdaad toneel kon afsper.
Volgens du Plessis moet buurtwagte ook by die plaaslike gemeenskapspolisiëringforum (GPF) geregistreer word. Om te registreer, moet ‘n grondwet en gedragskode aanvaar word wat in lyn is met die Provinsiale Grondwet en Gedragskode vir Buurtwagstrukture. Sodoende kan ‘n buurtwag aansoek doen om finansiële en organisatoriese ondersteuning, asook toerusting en opleiding. Hy sê dat mense in gedagte moet hou dat ‘n buurtwag vrywillige aksie is om die gemeenskap om jou te beveilig.
- Du Plessis stel ook die volgende stappe voor om ‘n buurtwag te begin
- Kontak soveel  as moontlik mense in jou gebied
- Kry ‘n geskikte lokaal vir ‘n vergadering
- Stel ‘n agenda op
- Notules moet gehou word
- Kry definitiewe syfers oor die misdaad in die gebied en van alle gebeure die vorige maand
- Stel die inwoners van die vergadering  in kennis deur van strooibiljette, die media en sosiale-media gebruik te maak.
- Reël die vergadering  wanneer die meeste mense dit sal kan bywoon.
- Besprekingspunte op die agenda
- Diensrooster en skofte
- Identifisering van voertuigpatrollies
- Toerustig vir die voertuig
- Prosedures  sou verdagtes gesien word
- E-pos adres vir die buurtwag
- Naam van die Buurtwag
- Die opstel van ‘n weeklikse of maandelikse nuusbrief
- Naamlys van lede
Du Plessis stel ook voor dat die Polisie se sektorbestuurders deel  van die vergadering vorm.  Ellisras se sektorbestuurder is  A.O. Willie Schutte en vir Onverwacht is dit A.O. Joep Joubert. Vir meer inligting bel gerus vir Theo Louw (Mokopane) by 082 806 5882, of Henk du Plessis (Lephalale) by  073 987 3175.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube