-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die geur van vars gebakte brood en moerkoffie laat ‘n mens summier vassteek. Dis dan wat jou oë oor die pittige gesegtes teen die mure dans en jy ook die ou yskas met sy boeke raaksien. Hier kan ‘n mens mos lekker kuier, flits dit deur jou gedagtes.
Aard World op die hoek van Ruiter- en Krugerstraat is inderdaad ‘n kuierplek met ‘n verskil. By die voorhek is ‘n bord met die woorde “Art is what you can get away with”. Die bord is ontwerp en geteken deur die bekende kunstenaar, Hanlie Kotze, hoor ek later.
Sommige noem dit nostalgie en vir ander is dit ‘n toer terug in hul kinderjare. By Aard World kry jy baie snuisterye onder een dak. In die winkel is handgemaakte geskenke, klere, skilderye, krale en houtwerk. Hier word draad, klip en verf saam ingespan om ‘n unieke geskenk te maak.
Riaan Smith is die man in die kombuis wat nie net tradisionele gebak voorsit nie, maar ook voortaan spesiale aande gaan hou waar gaste onder meer sal kan smul aan afval, skaapkop of beesbredie.
Die wag vir skons met plaasbotter, vyekonfyt en room is die moeite werd want op die tafels is koerante en tydskrifte uit toentertyd. Jy kan ook vir jou tieners wys hoe ‘n ou tikmajsien en ‘n langspeelplaat lyk.
Die erf huisves die afgelope vier jaar ‘n kwekery met die naam Earthsong. Die plante is meestal gehard om by die omgewing se klimaat aan te pas. Benewens die struike, bome en plante is daar ook kruie wat gekoop kan word.
Vir die kunssinniges word daar gereeld kunsklasse aangebied. Mosaiek-, hekel- en matknoopkursusse bied vermaak vir oud en jonk. Kunsklasse word op Donderdae aangebied en kos R100 per persoon.
Richard Vigus, pastoor van die AGS Groeipunt gemeente, bied ook een keer ‘n maand ‘n kunsslypskool aan. Die kursus kos net R250 per persoon en sluit ‘n ligte middagete in. Richard het in 1993 begin skilder en spog met ‘n ATKV-trofee wat hy by die Secunda skou gekry het vir sy skildery wat ‘n straattoneel in Tibet uitbeeld. Mense wat belangstel kan hom by 082 442 2350 bel.
0 Comments