-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Lephalale is tans besig om nuwe hokke te bou om al die rondloperdiere in die dorp te huisves.
Mariaan Wentzel van die DBV sê die organisasie kan nie voorbly met die groot getal rondloperdiere wat in hulle sorg gelaat word nie en nuwe hokke is nou prioriteit.
Sy is om dié rede besonders dankbaar vir die stene, beton en arbeid wat Elcoserv projects in Lephalale reeds aan die DBV geskenk het.
Volgens Lofty Fourie van Elcoserv dien die skenking ‘n tweeledige doel.
“Eerstens kon ons begin om nuwe hokke daarmee te bou en tweedens bied dit ‘n goeie manier om op ‘n ekovriendelike wyse van afval beton ontslae te raak. Die beton word verskaf deur Lafarge Readymix, wat ons skakel sodra daar afvalbeton beskikbaar is. Ons kon dus reeds begin om die eerste 10 hokke te bou.”
Volgens Wentzel beoog die DBV om twintig nuwe hokke te bou om in die behoefte van die dorp se rondloper diere te kan voorsien. “Hier is tans net nie genoeg plek vir al die diere wat hulp nodig het nie en ons vra die gemeenskap om soos Elcoserv en Lafarge Readymix by die projek betrokke te raak.”
Vir nadere inligting kan die DBV by 076 636 6946 of 073 611 9543 geskakel word.
0 Comments