-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Twee leerders van Hoërskool Piet Potgieter gaan vanaf 16 Mei in Kaapstad aan die finale rondte van ‘n nasionale toneelspelkompetisie deelneem. Die kompetisie word deur Kyknet geborg.
René Kirchner en Phindile Tjale hoop om met die louere weg te stap in die finale vier rondtes wat in die Kunstekaap Teater gehou word. Die Hoërskool Bellville bied sedert 2002 die toneelspelkompetisie vir hoërskoolleerders aan.
Leerders vanaf graad 8 tot 12 neem individueel deel. Nadat uitdunrondtes regoor die land gehou is, word 60 kandidate gekies om aan die finale 4 rondtes deel te neem. Die doel van die kompetisie is om die leerders die geleentheid te gee om hulle talente te meet aan dié van ander leerders van regoor die land. Benewens die geldpryse, kry die wenner ook ‘n verskyning in die sepie Binneland op Kyknet.
Verlede jaar is van die ander deelnemers ook raakgesien en klein rolle in ander televisie reekse aangebied. Die regisseur, Marthinus Basson, het ook verlede jaar 11 akteurs tydens die kompetisie gekies wat vanjaar op die Suidoosterfees en die Woordfees in ‘n produksie gaan speel. Hulle sal saam met bekende akteurs soos Anna-Mart van der Merwe, Stian Bam, Brendon Daniels en Tinarie van Wyk-Loots optree.
Die SAOU (Wes-Kaap) gee ook ‘n beurs van R10 000 aan ‘n Gr 12-kandidaat wat drama gaan studeer met die oog op ‘n loopbaan in die onderwys.
0 Comments