-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die rustige atmosfeer en aardse dekor maak dat ‘n mens hier by The Honey Ball agteroor kan sit en van jou stres ontslae kan raak.
Hierdie nuwe kuierplek op die hoek van Hooge- en Voorstraat maak Maandag sy deure vir die publiek oop. Vir die eienaares, Sanél Honiball is dit 'n droom wat waar word.
“Dit was nog altyd my passie om te kan bak en ‘n lekker plek te skep waar mense net kan kom sit en van al die gejaag en spanning ontslae te raak. Ek het lank in die korporatiewe-bestuurslyn in Polokwane gewerk. Daardie dae is nou verby, danksy die ondersteuning van my man, Emile, my drie kinders en familie.”
Sanél wys hoe die Honiballs die voorste gedeelte van hulle erf omskep het in ‘n bakery en onthaalgebied. Daar is ook twee gastekamers wat sy besig is om in te rig. Die dekor is gemik op rustigheid. Roomkleurige stoele, bruin leerbanke en ‘n lowergroen tuin met waterelemente dra by tot die atmosfeer.
Haar personeel, Riane van der Walt en Japie Masabate, is net so opgewonde om gaste te bederf met al hul keurige geregte. Hulle het gaan kers opsteek by ‘n spysenieringskool in die Kaap en ook in Johannesburg meer gaan leer oor Franse gebak.
Benewens vars gebakte brode, sout- en soet terte en koeke, bied The Honeyball ook ligte middagetes aan. “Ons gaan ook daarop fokus om kleiner gebak voor te sit vir diegene wat enkellopend is en daar sal ook geregte wees vir diabete.
Sy beplan om mettertyd spesiale tema-aande te hou. Die onthaalgedeelte is geskik vir sowat 50 gaste, dus is dit ideaal vir verjaardagpartytjies of spesiale funksies en seminare.
Sanél sê sy en haar man, Emile, het in Italië aan die lekkerste koekies weggelê wat bekend staan as The Honey Ball, vandaar die naam. Dit pas ook in by haar van, hoewel dit anders gespel word.
The Honey Ball is soggens al van 7:00 oop tot 19:00 die aand. Dit gee ‘n mens kans om vinnig daar in te loer vir vars gebakte brood en om ná werk in ‘n rustige atmosfeer koffie te drink en die ander lekkertes op die spyskaart op die proef te stel.
0 Comments