-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die Limpopo Toerismeraad wil hê daar moet dringend ‘n ondersoek ingestel word na die gebrek aan straatnaamborde in Mokopane.
Gastehuiseienaars is omgekrap oor die strate wat nie naamborde het nie. Hulle ontvang gereeld klagtes van toeriste wat sukkel om gastehuise op te spoor. Een van die gastehuiseienaars sê dit is veral in die aand wat sy bont moet staan om aan toeriste te probeer verduidelik hoe om by haar gastehuis uit te kom.
Nog ‘n eienaar sê sy was al lus om sommer self 'n bord in haar straat op te rig, maar sy verstaan dat dit nie toelaatbaar is nie. Sy glo egter die Limpopo Toerismeraad en munisipaliteit moet saam die probleem aanspreek. “Om te kla help nie, 'n mens moet positief bly en ‘n oplossing vind.”
Volgens munisipale woordvoerder, Malisela Selokela, is daar nie begroot vir naamborde nie, maar die probleem sal opgelos word deur fondse uit die Operasionele Begrotingsfonds te gebruik. “ Ons is bewus van die vandalisme en werk deurgaans om met alternatiewe oplossings vorendag te kom om die probleem hok te slaan.”
Raadslid, Korny Dekker, sê die munisipaliteit vervang borde, maar dit word maar net weer deur vandale afgebreek. “Dit is jammer dat naamborde wat vervang word sommer weer binne 24 uur geplunder word. Drie dae gelede was daar nog ‘n naambord op die hoek van Kerk- en Chroomstraat, nou is dit net weg. Daar sal na alternatiewe gekyk moet word. ‘n Sement- of ‘n rubbertipe bord gaan dalk help om die vandalisme stop te sit.”
Onderskrif:
Strate sonder naamborde en ook bordjies soos dié maak dit moeilik vir toeriste om by hul bestemming uit te kom.
0 Comments