-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Vetsug en oorgewig onder kinders is 'n probleem wat die afgelope paar jaar wêreldwyd skerp toegeneem het. Suid-Afrikaners is nie verniet die derde vetste nasie op aarde, volgens die voedseldienste-maatskappy Compass Group Southern Africa.
Kitskos propvol suiker, verfynde koolhidrate en vet, koeldrank en sappies vol suiker, te veel tyd voor die TV, te min oefening word aangevoer as redes waarom kinders oorgewig is. Een uit elke drie kinders wêreldwyd tussen die ouderdom van twee en 19 is oorgewig of ly aan vetsug. In Suid-Afrika is sowat 17 persent van kinders tussen een en nege jaar oud oorgewig.
Oor die algemeen word vetsugtigheid deur 'n kombinasie van te veel eet en te min oefening veroorsaak. Obesiteit ontwikkel oor 'n geruime tyd wanneer daar meer kalorieë ingeneem word as wat verbrand word.
Retha Ehlers, opvoedkundige leiding onderwyseres in Mokopane, sê dit is hartseer om te sien hoe oorgewig leerders sukkel om in te pas. “Hulle kom dikwels kla dat maatjies nie met hulle wil speel nie, maar as jy ondersoek instel kom jy gou agter hulle wil nie saam met die maats bal speel of hardloop nie. Oorgewig kinders is gewoonlik onseker en het selfbeeldprobleme. Hulle word ook gespot.”
Ehlers neem die ma’s van sulke kinders kwalik. “Die ma moet tog vir haar kind leer van porsie beheer en nie volstop met lekkernye nie.” Sy het ook al gesien hoe pa’s wat oorgewig is gedurende ‘n skoolfunksie gou twee pasteie gaan koop en daarop aandring dat sy kind saam eet terwyl die kind duidelik nie wil nie. ”
Hoërskoolleerders praat weer nie maklik oor hul gewigprobleme nie. Hulle kry skaam, kan nie byhou op die oefenveld nie en het dikwels selfbeeldprobleme. ‘n Mens moet egter onthou dat oorgewig ook ander oorsake kan hê soos trauma weens egskeiding, verkragting of huisprobleme. Kinders soek dan troos in kos, sê ‘n hoërskool onderwyseres.
Elsie Barwise, nuwe snoepiewinkel-eienaar van Hoërskool Piet Potgieter, sê dit was vir haar ‘n openbaring om te sien hoeveel geld kinders het om kos by die snoepie te koop. Sy en haar sus, Wilma van Vuuren, het onlangs die snoepie onder hul vlerke geneem.
“Ons het probeer om gesonde kos aan te bied, maar dit verkoop glad nie. Die pasteie is die top verkoper, so ook die geroosterde ham en kaas toebroodjies en die pap en vleis. Die vrugtesappe verkoop nie so goed soos die gaskoeldranke nie.”
Elsie sê hulle het vraelyste uitgestuur en daarvolgens soek die leerders ‘slush puppies’ en ook ‘bunny chows’. Noudat dit kouer word verkoop koffie goed en sy glo in die winter sal sop en brood ‘n wenner wees. “Lekkers verkoop nie so goed onder die hoërskoolleerders nie. Die leerders soek kos. Ongelukkig is dit nie gesonde keuses wat hulle maak nie.”
Nog ‘n snoepie-eienaar sê hy wens ouers wil besef dat die oplossing tuis lê. “ Dit is ‘n opvoedingstaak. Kinders moet tuis geleer word om gesond te eet en die regte keuses te maak. Vanoggend het ek weer besef hoeveel kinders ‘n R100 noot in die hand gestop word om vir hulself by die snoepie kos te koop. Jy kry kinders met baie geld en dan diegene wat net ‘n paar sente het of nie snoepiekos kan koop nie. Daar is nie ‘n balans nie. Kinders is ook nie aktief genoeg nie. Hulle eet gemorskos en oefen nie genoeg nie.”
Die eienaar sê hy het eers vrugte aangebied en self vrugteslaai gemaak. “Dit het nie verkoop nie. Die leerders koop pasteie. Dis nog oggend en die pasteie is reeds klaar. Die geroosterde ham en kaas broodjie en slap skyfies is ook gewild.
By Laerskool Bosveld Primary in Lephalale kry die snoepie ook baie aftrek. Elsabe Powell wat daar aan stuur van sake is, sê die skool het planne om met die hulp van borge, die snoepie uit te brei en in te rig om verskillende kosse te verkoop. “Dit is die skool se ideaal om gesonde kos aan leerders te verkoop en nie net lekkergoed nie. Ek moet egter sê dat ons in die verlede probeer het om gesondheidsbroodjies en muffins te verkoop, maar dit het nie baie aftrek by leerders gekry nie.”
Powell meen dit sou ideaal wees om kos tydens eerste pouse te verkoop en dan die lekkernye met tweede pouse. “Ons het ook in die verlede met ‘n kettingwinkel gesels om kospakkies te voorsien. Die onderwysers het ongelukkig net nie die tyd om kos te maak en te verkoop nie. Ek sou ook graag wou sien dat ons wintermaande sop en milo aan die kinders verkoop,” vertel sy.
Die snoepie-eienaars is dit eens hulle is sakemense wat ‘n diens lewer en ‘n winsgewende besigheid moet bedryf. Dit help nie om goed aan te hou wat nie verkoop nie.
Onderskrif:
Leerders kan elke dag aan die lekker eetgoed van snoepwinkels smul.
0 Comments