-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Leef in vrede, kry vergifnis in jou hart vir diegene wat jou te nagekom het en ken jou Skepper. Dit is die boodskap van Sarie Senekal (76) wat verlede week twee keer aan die regterbeen deur ‘n bykans twee-meter-lange swartmamba gepik is.
Sarie, wat in die soetdoringwoonstelle op Mokopane woon, sterk nog aan by haar dogter, Frieda, se huis voordat sy saam familie gaan vakansie hou om die nare ondervinding heeltemal agter die rug te sit.
Sy vertel hoe sy verlede Woensdagmiddag die slang buite tussen sakkies kompos onder ‘n tafel by haar buurvrou se huis gesien het. “Ek het hom aan die stert gegryp en toe hy sy mond oopmaak het ek die hele blik doom wat in my hand was, in sy bek gespuit. Ek het vir my buurman gesê om hom met die graaf te kap. Ek het eers nie besef hoe lank en groot hy is nie en het hom al in die rondte bo my kop gedraai om hom van my weg te probeer hou. Die slang het my toe een keer aan die been gebyt. Ek het hom weer in die rondte bo my kop gedraai en toe byt hy my weer met die afkom slag. Dit het effe gebrand.”
Sy het haar buurman gevra om haar na dr. Vernon Els se spreekkamer te vat. Oppad soontoe het sy haar dogter gebel en vertel wat gebeur het. Vandaar is sy na die provinsiale hospitaal in Polokwane met ‘n noodhelikopter.
Frieda sê haar ma het van 15:00 tot omstreeks 20:00 in die hospitaal gelê sonder dat hulle vir haar teengif ingespuit het. Sy het toe vir Desiréé van der Walt, Demokratiese Alliansielid van Limpopo, gebel vir hulp. Desiréé het ‘n paar oproepe gemaak en toe het haar ma die nodige aandag gekry. “Die hospitaal het net 10ml teengif gehad. My ma moes 300ml kry. My ma is na die hoësorgeenheid waar sy later die aand die res van die teengif toegedien is.
Sy is net dankbaar haar ma het geen newe-effekte nie en het so goed herstel. Sy kon Saterdagmiddag huis toe kom. Sarie en Frieda wil almal bedank wat in die moeilike tyd gehelp het, veral vir dr. Els en sy personeel, asook die Volle Evangeliekerk vir al die gebede.
0 Comments