-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
In Mokopane moet mens nogal mooi kyk om 'n mangat oor 'n rioolpyp of kabeltonnel te sien met 'n deksel op. Al die gate staan oop met geen teken van 'n deksel naby nie en word in baie gevalle deur voetgangers as asblikke gebruik.
Terwyl hierdie gapende luike saam met oorgroeide parke en afgesteelde straatnaamborde die dorp 'n ietwat vervalle voorkoms gee, sê die munisipaliteit se bestuur hulle is raadop met die situasie. “Die deksels oor ons inspeksieluike word so vinnig afgesteel as wat ons dit vervang,” sê munisipale woordvoerder, Malesela Selokela.
Hy verduidelik dat die probleem by skrootmetaalhandelaars lê wat dié swaar gietysterdeksels onwettiglik by plunderaars koop en boonop goeie geld per kilogram daarvoor betaal.
“Ons het besef dat ons die stryd teen skrootmetaaldiewe nie gaan wen nie, daarom het die munisipaliteit nou besluit om na alternatiewe deksels te kyk.”
Hy verduidelik dat die munisipaliteit 'n program van stapel gestuur het in Mokopane, Mahwelereng, Moshate en ander nedersettings in die Mogalakwena distrik waardeur alle oop gate gedokumenteer sal word en dan stelselmatig nuwe deksels wat van beton vervaardig is, sal kry.
0 Comments