-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
“Willie Meintjies, Maria Nel en Koos de Kock het vandag elkeen vier houe gekry omdat hulle nie hul Bybelverse geken het nie.” Só lui die joernaal-inskrywing vir 29 Februarie 1924 van die skooltjie wat twee jaar van te vore met net 15 leerders op die plaas Oatlands naby Swartwater begin het.
Vandag staan die skool bekend as Marken Primary School met ‘n leerlingtal van 285 en ‘n baie ryk geskiedenis. In die hoof se kantoor staan ek en blaai deur die ou joernale. Die oudste dokument is ‘n klasregister wat in 1922 opgestel is met netjies inskrywings van die kinders se name en vanne. Meintjies, Swanepoel, Nel… lees ek en ek probeer my voorstel hoe die gesiggies van daardie jaar se Standerd 1 klassie gelyk het.
Ek lees die inskrywing van 12 Maart 1924 van die De Kock broers wat volgens die hoof, Mnr. Edwards, elke dag laat kom omdat hulle pa met die donkies dorp toe is. Die twee moet dus skool toe loop en hulle pa sou eers oor ‘n week weer op die plaas wees.
In 1930 verskuif die skool na Marken en voortaan staan dit bekend as Murchison 472 skool. Die skool het net 41 leerders. Volgends die inskrywing op 24 Oktober het ‘n plaag insekte hulself in die grasdak tuisgemaak. “…die insekte val gedurig op die onderwysers en kinders . Dit is baie ontstellend,” lui die inskrywing.
Op 7 November 1932 beskadig ‘n trop blouwildebeeste die heining om die skool en loop al die donkies weg. ‘n Vakansie dag is aangekondig vir 16 en 17 Augustus 1945 ter viering van die einde van die oorlog.
Murchison smelt op 27 April 1948 met die Johannesberg skool (‘n skool van Overyssel) saam om Marken Sentrale Skool te word en Mr. S. W. Breytenbach is die eerste hoof.
Vyf en sestig jaar later skryf die huidige hoof, Ramon Bronkhorst, wat sedert 2007 hoof by Marken is, “27 April 2013 - Marken Primary vier vandag sy 65ste verjaarsdag.”
By die feesvieringe ontmoet ek vir Oom Doors Nel, ‘n oud-inwoner van Marken wat self ook in 1949 en 1950 ‘n leerder by die skool was. Hy vertel dat die kinders in daardie jare self in die lande moes werk en koeie moes melk om te sorg dat daar kos is. “Die seuns wat verantwoordelik was om die beeste te versorg moes in die oggende 04:00
opstaan om die koeie te melk sodat daar melk aan die ontbyttafel vir almal kon wees. In die middae het hulle, hul huiswerk in die stalle gedoen, want môre-oggend is dit pakslae as jou huiswerk nie klaar is nie. Hy vertel ook dat hulle self die rugbyveld ontbos en skoon gemaak het sodat hulle kon rugby speel.
Langs hom sit die skool se sekretaresse, Tannie Irene Nortje, haar man, Oom Antoon, was saam met Oom Doors daar op skool en sy het self in 1969 as sekretarresse by die skool begin werk. Sy vertel hoe sy voor haar aanstelling vanaf Pretoria gery het tot in Potgietersrus. Van daar af het sy met die spoorwegbus tot op Marken gery om vir Oom Antoon te kom kuier.
Ek wonder by myself of ‘n joernalis dalk oor nog 65 jaar, na vandag se inskrywing sal kyk en haar ook sal verwonder oor hoe die tye verander het.
0 Comments