<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Kinders lees te stadig – skokkende statistiek1

 
Hierdie Graad 9 leerders se leesvaardigheid het ná sewe lesse op ‘n aanlyn leesontwikkelingsprogram van LektorSA drasties verbeter. Hulle is nou op die leesvaardigheidsvlak van Graad 6 leerders. Hulle het begin met ‘n leesspoed gelykstaande aan ‘n Graad 0 leerder. Hulle lees dus nou 200 woorde per minuut teenoor die 86 woorde per minuut waarmee hulle begin het. Die leerders het gedurende die April vakansie ‘n ontwikkelingsweek by die RET Sentrum op Mokopane bygewoon.
News : 06 May 2013 688 Viewed 0

Net onderskeidelik 8% en 9% van die graad 8 en 9 leerders van Hoërskool Potgietersrus wie se Afrikaanse leesvermoë getoets is, was op die vaardigheidsvlak wat van hulle verwag is.
Die leerders se Engelse relatiewe leesvaardigheid is ook getoets en niemand in graad 8 was op standaard nie. ‘n Skrale 6% van die graad 9 leerders se relatiewe leesvaardigheid was op die gestelde standaard.
Die graad 8 leerders wat deur LectorSA getoets is, het ‘n gemiddeld van 140 woorde per minuut in Afrikaans gelees teenoor die 204 woorde per minuut wat van hul verwag word. Die graad 9 leerders het 167 woorde per minuut gelees teenoor die 214 woorde per minuut wat vereis word.
Die graad 8 leerders het met die Engelse lees-stuk 167 woorde per minuut gelees en die graad 9 leerders 162 woorde per minuut. Die verwagte standaard is 214 woorde per minuut.
Daleen Jansen van Rensburg, leeskonsultant by LectorSA, sê navorsing het bewys dat effektiewe leesvaardighede ‘n direkte invloed op die akademiese prestasies van die leerders het. Leerders moet ten minste die basiese standaard wat ook internasionaal gestel word, in hul leesspoed behaal om op akademiese vlak by te hou en om gereed te wees vir hul matriek vraestelle.
Die donker wolk het gelukkig ook ‘n silwer randjie. ‘n Mens kan jou vaardighede verbeter by die Lector leessentrum op die dorp. Kursusse toon uitstekende verbetering en het ‘n defnitiewe impak op akademiese prestasie van kursusgangers.
Daleen sê die relatiewe leesvaardigheid van Suid Afrikaanse leerders is gemiddeld op Graad 3 Vlak (Nasionaal getoets: Graad 2 – 12 deur LectorSA). Dit beteken die gemiddelde kind op ons skoolbanke lees ongeveer 140 woorde per minuut met 70% begrip.
“Wanneer ons van leesvaardigheid praat is daar ‘n wye verskeidenheid van aspekte wat ’n rol kan speel: van so klein as moegheid tot so groot as swak sig, kan ’n invloed op ‘n persoon se leesvaardigheid hê. Die gevolg van hierdie swak leesvaardighede is swak kommunikasie vaardighede, swak konsentrasie en swak begrip wat daartoe lei dat leerders nie hulle volle akademiese potensiaal verwesenlik nie,” sê Daleen.
Wêreldwye navorsing het getoon dat goeie leesvaardigheidsontwikkeling die grootste leemte in moderne onderrig is. Swak leesvaardighede lei daarom tot `n multi-biljoen dollar wêreldwye  impak met hoë koste op ondersteunings-programme en `n geweldige verlies aan produktiwiteit in akademiese- en arbeidskringe.
Leerders van Hoërskool Piet Potgieter kan by die skool se rekenaarsentrum gaan aanklop vir hulp. Die skool kan tot 100 leerders per jaar met Lektor-lees-klasse help. Urbani Niemandt, onderwyseres van die skool, sê die taal onderwysers stuur ook gewoonlik leerders wat sukkel na die sentrum vir hulp. Die kursus van 20 lesse wat Donderdae-middae op rekenaar gedoen word, is ‘n gratis diens wat die skool bied.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube