<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Op die spoor van ‘n swartmamba!

 
‘n Paar dae na die onderhoud is dié 3m swartmamba deur een van Marius se medewerkers op Medupi gevang.
News : 10 May 2013 392 Viewed By Valerie Cilliers 0

Valerie Cilliers
Ons jaag teen ‘n spoed met die Reptile Rescue voertuig Marapong toe want êrens tussen kaste, vloer en stoof in ‘n Eskomhuis is ‘n slang. Ek probeer om nie senuweeagtig te lyk nie, want dit was immers ek wat wou uitvind hoe ‘n dag in die lewe van ‘n bosveldslangvanger lyk.
Marius Koekemoer het Reptile Rescue sewe jaar gelede begin om slange van boupersele in die Lephalale omgewing te red. Dit is die tweede slang wat hy vanoggend moet gaan uithaal. Vroe?r was dit ‘n sand-en-sweep slang op die Medupibouperseel wat gevang en vrygelaat moes word. “Onskadelik,” sê hy en lyk byna teleurgesteld.
“Ja, ek moet erken dat ek maar altyd hoop dat dit ‘n swartmamba sal wees,” vertel hy en die skok op my gesig laat hom vinnig byvoeg: “Ons het ‘n groot tekort aan teengif en weens die stigma wat aan ‘n swartmamba kleef word hy summier doodgemaak.”
Marius vertel dat een dosis teengif gemaak word van 10 verskillende soorte slange se gif, maar dit is die swartmamba se gif wat die skaarste is. Hoewel hy gratis slange by privaatwonings uithaal, sê hy min mense kontak hom oor swartmambas omdat hulle verkies om die gevreesde slang dood te maak. “As mense net wil besef dat dit moontlik is om ‘n swartmamba te vang. Jy hoef hom nie dood te maak nie. Hy val ook nie mense aan nie. Solank hy, veral in paartyd, nie bedreig word of beseer is nie, sal hy probeer wegkom.”
Die afgelope jaar en ‘n half het Marius al meer as 40 swartmambas in die Lephalale omgewing gevang, maar hy meen baie meer word doodgemaak.  Met Eskom se beleid dat geen diere op Eskompersele doodgemaak mag word nie, word hy gereeld uitgeroep om slange op Medupi-,  Matimba-kragstasies of by Eskom behuisingeenhede uit te haal. En dit is juis na Eskom se behuisings-eenheid in Marapong waarheen ons oppad is.
Kort voor die afdraai wil ek by hom weet waar die belangstelling in slange begin het en hy vertel dat hy as sesjarige seuntjie sy eerste slang, ‘n swart rinkhals, gevang het. 
Die pakslae wat hy daardie dag gekry het, het hom nie ontmoedig nie. “My ouers het my verbied om slange aan te hou so ek het tot ek 14 jaar was skelm slange gevang en weer laat gaan. My ma het gesien sy gaan nie hierdie ding uit my uitkry nie en het toegegee dat ek slange mag aanhou mits ek elkeenuit ‘n boek kan identifiseer en weet of hygiftig is, aldan nie. Vandag, 30 jaar later, vang ek nog slange. Ek doen dit omdat ek ‘n passie daarvoor het.”
Hy verseker my dat hy nog net eenkeer gepik is en dit was deur ‘n Suidelike Sypik.
Antibiotika, steroiede en twee dae in die hospitaal het sy vinger gered. Dit laat my nie beter voel oor dit wat vir ons in Marapong wag nie.
By die sekuriteitshek laat hulle my nie deurgaan nie en Marius moet alleen na die slang gaan soek. Ek sit baie verlig by die hek en wag om te hoor of dit toe ‘n swartmamba was. Na ‘n halfuur keer hy terug en op die sitplek is ‘n houer met ‘n slang daarin. Ek klim maar stadig in en hou die houer fyn dop. Marius lag en vertel dat dit maar slegs ‘n bruin huisslangetjie was en dat ek maar kan asemhaal.
“Miskien kry ek more my swartmamba,” sê hy. Met die terugry besef ek dat ‘n mens geroep moet word om ‘n slangvanger te wees.
Kontak gerus vir Marius om slange te verwyder by 0721746970. Hoewel hy dit gratis doen, is ‘n donasie altyd welkom. Marius bied ook opvoedkundige praatjies by skole, besighede en kinderpartytjies aan.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube