<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

In geloof op die grootwild se spore

 
Tania Kaiser - Foto deur Johan Widd
News : 17 May 2013 335 Viewed 0

Sy is die eienaar van Unico, ‘n internasionaal bekende en gesogte jagonderneming net buite Lephalale en die eerste vrou om aangewys te word as die WRSA se Wildboer van die Jaar. Valerie Cilliers van Noordelike Nuus het met Tania Kaiser gesels oor waar haar voorliefde vir die jag- en wildbedryf begin het.Tania vertel sy het as die dogter van ‘n tandarts op Louis Trichardt grootgeword.  “Tussen die berge op ons familieplaas het ek lief geraak vir die Bosveld. Hier het ek ook sedert ek agt jaar oud was gereeld saam met my pa gejag.”
Maar dit was tydens ‘n leeujag in die Kalahari saam met haar man, Christo en ‘n internasionale filmspan, waar sy vir die eerste keer besef het dat sy geroep is vir die jagbedryf.”
“Ons het vir ure deur dik sand geloop op soek na ‘n leeuwyfie. Die filmspan was besig om ‘n dokumentêr te skiet oor vroue-jagters en ek het geloop en bid: “Here help my asseblief dat hierdie skoot reg sal val.” Terwyl ons in stilte stap, elkeen met sy eie gedagtes, was dit asof iemand agter my kom  staan en amper hoorbaar met my praat. Ek het op daardie oomblik baie sterk God se roeping op my lewe ervaar en geweet dat ek hier moet wees. Dat ek sover dit vir my moontlik is, Sy Koningkryk in die jag-en wildbedryf moet uitleef. Ek was half uit die veld geslaan, maar het in daardie stadium vir niemand daarvan gesê nie.”
‘n Paar maande daarna, in Mei 2007, is Christo tydens ‘n jagtog in Botswana deur ‘n olifantkoei gestorm en noodlotig beseer. Ten spyte van die skok en verlies moes Tania daardieselfde dag nog ‘n besluit neem oor haar en haar drie jong dogters se toekoms.
“Christo was nie meer daar om my te help met die besluit nie en al waaraan ek kon vashou was God se woorde aan my. Ek moes besluit of ek alleen sou voortgaan met Unico - ‘n droom wat ek en Christo saam sedert 1999 opgebou het. Ek het die volgende dag ‘n persverklaring uitgereik waarin ek onderneem het om alle bestaande jagkontrakte te eer. Dit sou beteken dat ek vir die volgende twee jaar die onderneming sou bestuur.”
Die twee jaar het ses jaar geword en vandag is Unico een van die land se voorste jagondernemings en een van die baie min met ‘n vroulike beroepsjagter aan die stuur.
Tania erken dit was nie altyd maklik nie. “Daar was tye wat ek moed wou opgee, maar die Here het my elke keer daardeur gedra. Ek het ‘n fantastiese span om my, mense wat ek glo oor my pad gestuur is. Ek moes vinnig leer dat vrees nie van die Here af is nie en omdat ek dikwels alleen besluite moet neem laat ek my deur Sy vrede lei. As ek 1% ongemaklik voel oor ‘n besluit is die antwoord: nee.”
Sy vertel dat die Wildboer van die Jaar-toekenning  vir haar ‘n bevestiging is dat die Here se Hand oor dit alles is en dat ‘n mens uiteindelik net so goed is soos die mense wat vir jou werk.  “Ek moet alle eer aan God gee, want niks van dit wat ek doen kom uit my eie krag of sou moontlik gewees het sonder Die Here in my lewe nie.” 
Vir Tania is ma-wees heel bo aan die lys. “My kinders kom eerste en ek het die onderneming só ingerig dat ek ondanks ‘n propvol program genoeg tyd saam met hulle kan deurbring. Selfs in die bedryf fokus ek graag op familiewees. Ek bemark Unico as ‘n jaggeleentheid vir families en 90% van ons kliënte word vriende en kom jaarliks terug.”
Tania en haar span fokus nie net op die jagbedryf nie maar teel ook baie suksesvol met onder meer goue wildebeeste, siektevrye Kruger-lyn buffels, nyalas en top gehalte troffee-wild.
Saam met ‘n vennoot kon hulle ook twee baie besonderse swartwitpens
teeltroppe vestig.
Tania glo dat haar aktiewe betrokkenheid as vrou in die wildbedryf, ‘n getuienis is van God se getrouheid. Sy kry dan ook gereeld geleentheid om in lande soos Amerika as spreker op te tree waar sy graag vroue bemoedig om ondanks hul omstandighede, hulle vertroue in God te plaas.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube