-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Charmaine Lourens (charmaine@noordnuus.co.za)
‘n Mens is so oud soos jy voel. Moenie na jou ouderdom kyk nie en wees eerder aktief. Dit is die wyse raad van twee bejaarde inwoners van Mokopane wat beslis nie heeldag op die stoep sit en koffie drink nie.
Oom Teddie (83) en tannie Mart Beukes (82) van die Piet Potgieter Monument Ouetehuis wys trots die talle medaljes wat hulle die afgelope jare ingepalm het.
Oom Teddie is ‘n kranige swemmer wat in Maart weer aan die Suid-Afrikaanse Meesters-swemkampioenskappe deelgeneem het. Daar het hy as die oudste deelnemer weggestap met vier goue-, ‘n silwer- en ‘n bronsmedalje. Hy het ook vanjaar sy 21ste Midmar-myl voltooi en daarvoor ook ‘n gouemedalje huis toe gevat.
Oom Teddie was 61 jaar oud toe die swemgogga hom byt. Hy oefen nou in die somer saam met twee vriende in ‘n groot watergat op die plaas Moorddrift, terwyl tannie Mart kilometers ver op die plaas stap.
Hoewel hy nie saam tannie Mart volkspele doen nie, kyk hy graag hoe sy saam met die laer op Maandae-aande dans. Tannie Mart het vir 46 jaar die leidsels by die Potgietersrus Volkspele-laer vasgehou voodat Perie van Eeden in 2006 by haar oorgeneem het.
Haar liefde vir volkspele het jare gelede as leerder aan die Ho?rskool Ermelo begin. Sy wys trots haar groen Springbokbaadjie en medaljes. Sedertdien het sy al baie oorsee gaan deelneem. Skotland is vir haar die mooiste van al die lande wat sy al besoek het. Die hoogtepunt was egter om nuwe vriende te maak, te kuier en te dans
Tannie Mart sê die Volkspele-beweging gedenk aanstaande jaar sy 100ste bestaansjaar. Sy en Oom Teddie beplan dan om die vieringe op Boshoff in die Vrystaat by te woon en ook later in Bloemfontein.
Sy vertel Volkspele is deur dr. S.H. Pellisier begin. Hy het in 1912 in Swede besluit om ‘n volkspele beweging in Suid-Afrika op die been te bring. Die Potgietersrus Volkspele-laer is eers in 1941 gestig.
Op Saterdag, 25 Mei, word ‘n saamtrek by die CVO skool beplan. Dan gaan al die niggies en nefies van verskeie laers in die omgewing saam kom tiekie draai. Tannie Mart vra die inwoners om te kom kyk en betrokke te raak. Die toegangsfooi is net R5 en daar kan ook gesmul word aan kerrie en rys en ‘n lekker nagereg.
Benewens die volkspele is tannie Mart ook die afrigter van die Skemeruur Volksangkoor. Die koor is in 1981 gestig en tree steeds op. Daar is ook nog tyd vir haar en oom Teddie om saam rolbal te speel en wanneer hul kans kry glip hulle gou weg wildtuin toe vir ‘n welverdiende ruskans.
Mokopane se inwoners wat belangstel om by die Volkspele aan te sluit kan gerus van hulle laat hoor. Die laer oefen op Maandae-aande in die kerksaal van die Hervormde Kerk in Dudu Madisha-rylaan. Die groep leer nou ook om die verskillende boeremusiekdanse soos die polka en setees onder die knie te kry. Tannie Mart kan gebel word by 015 491 4961.
0 Comments