<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Abbottspoort-projek ‘n sukses

 
Under the leadership of their traditional queen and with the guidance of some white farmers, the Abbottspoort community is showing that not all communal farming projects are failures. The Abbottspoort project even supplies your local Fruit & Veg
News : 06 Jun 2013 181 Viewed By Valerie Cilliers 0

Dit is nie elke dag dat ‘n mens ‘n koningin ontmoet nie en oppad na die Abbottspoort gemeenskap net buite Lephalale, sit en wonder ek of daar enige protokol betrokke is by die groet van ‘n Afrika monarg. Ons ry met die grondpad tot waar ons indraai by ‘n hek wat aandui dat die Abbottspoort-gemeenskapsprojek hier gevestig is.
Op die lande staan tien pensionarisse. Sommige pluk pampoene terwyl ander ‘n trok wat aan Fruit & Veg behoort vol van die pampoene wat hulle self geplant en versorg het, laai. Die tradisionele leier in die gebied, Koningin Langa, is ook daar en met etenstyd kry ek ‘n kans om  onder ‘n groot boom met haar te sit en gesels. Geen protokol is nodig nie.
Sy vertel dat sy sowat  50 hektaar grond beskikbaar gestel het vir die projek wat in Februarie vanjaar die lig gesien het. Tien pensionarisse in die gemeenskap is geïdentifiseer om die lande te bewerk en aandele te hou in die opbrengs van die grond.
“Ek kry lekker as ek sien hoe hard my mense werk en dat die groente so mooi groei. Ek hoop regtig dat die projek sal groei,” vertel die koningin.
Die projek  wat deel is van ‘n agri-besigheidsinisiatief genaamd die Lephalale Agricultural corridor (LAC), word deur die Lephalale Development Forum (LDF) gefassiliteer en die fondse word deur Exxaro as deel van hulle gemeenskapsbetrokkenheid-program voorsien.  Die hulp van ‘n plaaslike boer, Stoffel Uys, is ingeroep en onder sy bekwame leiding staan drie hektaar van die grond reeds vol pampoene en kool.
“Die doel van die projek is om deur middel van wisselbou te sorg dat daar met elke seisoen produkte gelewer kan word wat aan plaaslike besighede soos Fruit & Veg en One Stop gelewer kan word,” vertel Uys. “Hierdie tien plaaslike boere het werklik eienaarskap geneem en as dit nie vir hulle toewyding en harde werk was nie, was hier nie ‘n projek nie. Hulle het die lande self ontbos en is gretig om te leer oor goeie landboupraktyke.”
‘n Bergingsdam, kragopwekker en ‘n pomp wat water uit die Palalarivier vir besproeiing pomp, is deur Exxaro geinstalleer en die hoop bestaan dat die projek tot so ‘n mate sal groei dat die plaaslike boere selfonderhoudend kan word.  Die LDF ondersoek tans die moontlikheid om soortgelyke projekte in ander dele van die  Palala landbou korridor te vestig.

 

 

 
 

Saam met die plaaslike boere is van links agter Jacques Snyman (LDF), Stoffel Uys en Koninging Langa (swart hoed).
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube