<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

‘My baba is dood’ – vrou praat oor haar aand van hospitaalhel

 
News : 06 Jun 2013 1071 Viewed 0

Haar lewe het uitmekaar geval toe haar ver-soeke en gille vir hulp geïgnoreer is en sy in die Voortrekker-hospitaal in Mokopane geboorte moes skenk aan haar baba sonder die hulp van ‘n dokter of verpleegpersoneel. Kort daarna moes sy hoor haar babadogtertjie is dood.
Meriam Baloyi vertel hartseer haar kind is op 13 April vanjaar dood weens die nalatigheid van die suster wat die aand aan diens was. Hoewel sy ‘n verklaring oor die gebeure afgelê en by die hospitaal ingedien het, moet sy telkens hoor die saak is na die Provinsiale Gesondheidsowerheid verwys en word ondersoek. “Ek kan nie die saak daar los nie. Wanneer ek alleen is huil ek. Ek is seer oor wat gebeur het. Die hospitaal kom nie terug na my toe nie. Ek moet heeltyd hoor die saak word ondersoek.”
Meriam sê sy is op 11 April na die hospitaal nadat sy kraampyne begin kry het. Die volgende oggend het die dokter haar ondersoek en meegedeel dat sy nog nie in kraam is nie en huis toe kan gaan.
“Ek het vir die verpleegpersoneel gesê ek is in kraam en die dokter het my weer ondersoek. Hy was nie gerus oor die baba se hartklop nie en sy het mening verander en gesê ek moet eerder in die hospitaal bly. Teen 19:00 het die pyn erger geword. Ondanks versoeke en gille het die verpleegpersoneel van sewe-uur die aand tot middernag my geïgnoreer en nooit besoek nie.”
In die oggendure het die pyn erger geword en sy het die pasiënt langs haar gevra om haar te help. Met die hulp van dié vrou het sy opgestaan en die suster gaan soek. “Die suster het aan die vrou gesê om my na die kraamkamer te vat. Ek het gegil en geskreeu vir hulp, maar niemand het gekom om my te help nie. Toe die suster uiteindelik opdaag het ek vir haar gesê ek is in kraam en haar gevra om my te ondersoek. Die suster het gesê ek is nog nie in kraam nie en my getug omdat ek so lawaai terwyl die ander pasiënte slaap. Die suster het my toe ondersoek en gesê ek het 2cm ontsluit en sy sien ek het ‘n infeksie.
Volgens Meriam het sy vir die suster verdui-delik haar water wou nie in haar vorige twee swangerskappe breek nie. “Die dokter moes met die swangerskappe die membraan breek. Die suster het gesê sy kan dit nie doen nie en het weggestap.”
Meriam sê kort daarna het sy gevoel hoe haar baba se kop deur die membraan druk. “Ek het om hulp geroep. Die suster het gesê ek moet my bene oopmaak en weggeloop. Ek was in pyn en toe ek weer kyk was die baba uit. Die baba het nie gehuil nie. Ek het geskreeu vir hulp. Ná ‘n ruk het die suster opgedaag. Sy het aan die baba gevat en gesê sy dink nie die kind lewe nie.”
Meriam sê die suster het die baba onder ligte gesit en van die ander verpleegpersoneel het kom help. Hulle het pype in die baba se mond gesit en gesê die baba het binne haar ontlas en van die ontlasting het toe in haar dogterjtie se mond beland. Die dokter het kom help, maar die baba is toe dood weens ‘n gebrek aan suurstof.
Dr. Phophi Ramathuba, hoof-uitvoerende beampte van die hospitaal, het bevestig dat ‘n ondersoekbeampte tans met die aangeleentheid werk omdat die bewerings ernstig is. Die suster betrokke in die saak is ook van nag- na dagskof verskuif onder die wakened oog van die matrone.
Korny Dekker, Demokratiese Alliansie-lid wykraadslid, sê die voorval is totaal en al onmenslik. “Die hospitaalpersoneel is nie daar vir die gemeenskap nie. Ek het onlangs uit die Raad van die Voortrekker-hospitaal bedank nadat ek inderhaas na die hospitaal moes jaag om benodighede vir ‘n ander pasiënt wat gekraam het, te vat.
“Die hospitaal het nie die nodige voorraad gehad nie en ek is toe gevra om te help. Die personeel het geweier dat ek die pakkie na die vrou toe vat. Ek het dit toe maar in die hande van die hospitaal se kommunikasiehoof gedruk en gevra dat hy dit vir haar gee. Ek was lanklaas in my lewe so ontsteld soos daardie dag.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube