-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Sy het vir lank in haar kamer agter ‘n toe deur verskillende karakters voor die spieël nageboots en altyd geweet sy het talent, sê Phindile Tjale.
Phindile (14) vertel beskeie sy het onlangs van die SAUK se drama-ateljee in Auclandpark, Johannesburg, teruggekeer nadat opnames vir die radioverhaal, Ratels, gemaak is. Sy vertolk die rol van Lindiwe daarin. Die betrokke episodes sal op 22 en 29 Junie omstreeks 19:30 deur RSG uitgesaai word. Ratels is ‘n jeugreeks van die bekroonde skrywer en filmresensent Leon van Nierop.
Phindile se talent is begin vanjaar raakgesien deur ‘n onderwyseres toe sy die rol van ‘n skoonmaker in ‘n winkel tydens die graad 8 groentjiekonsert van die Hoërskool Piet Potgieter vertolk het.
“Ek het die geleentheid gebruik om in te skryf vir ‘n Nasionale Toneelkompetisie wat deur Kyknet en RSG geborg is. Op 23 Maart was ek een van 69 leerders wat landwyd gekies is om na die volgende rondte deur te dring. Ek moes toe in Meimaand ‘n monoloog, gedig en prosastuk opvoer om een van die dertig leerders te word wat na die derde rondte deurdring.”
Phindile vertel haar talent is daarna met onvoorbereide werk getoets. Die aktrise en skrywer Henriëtta Gryffenberg het haar raakgesien en sy is gekies om in die finale rondte in die Kaap deel te neem. “Dit was hier waar ek en nog drie leerders ‘n rol in Ratels gekry het.”
Haar gunsteling karakter op televisie is Paula van die sepie, 7de Laan. “Paula het beslis oemf in haar lewe. Sy gee nooit op nie.” Vinette Ebrahim wat die rol van Charmaine vertolk is ook vir haar ‘n groot inspirasie.
Phindile wil na skool drama gaan studeer en sal daarvan hou om haar merk op die silwerdoek en in die teater te maak.
Haar ma, Ruth, is haar grootste ondersteuner.
0 Comments