-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
‘n Vermeende renosterstroper is Sondag op ‘n plaas in die Cumberlandomgewing in ‘n skermutseling met die polisie doodgeskiet en ‘n tweede verdagte is in hegtenis geneem.
‘n Soektog na vier mans is Saterdag omstreeks 16:00 van stapel gestuur toe ‘n plaaswerker spore op ‘n plaas in die omgewing opgemerk het. Hy het dadelik die plaasbestuurder in kennis gestel en boere van die gemeenskap, die polisie en twee private helikopters is ingespan om met die soektog te help.
Die vier het kort daarna elkeen sy eie rigting ingeslaan en selfs op hulle kouse geloop om hulle spore te verdoesel. Die spoorsnyers het in twee groepe verdeel en die twee duidelikste stelle spore gevolg. Waar een van die verdagtes oor ‘n draad geklim het, het dit in die sand duidelik geblyk dat hy ‘n geweer by hom gehad het. Die soektog is tot laat in die nag voortgesit en die volgende oggend met dagbreek weer opgeneem.
Volgens een van die polisie-offisiere wat aan die soektog deelgeneem het, is die verdagte met die wapen gewaar waar hy ‘n pad oorgesteek het. Sondagmiddag kort voor 12:00 het ‘n skietgeveg uitgebreek toe die man op die helikopter wou skiet. Hy is in die lies gewond en het op die toneel gesterf. ‘n 303-jaggeweer wat met lewendige rondtes gelaai en oorgehaal was en ‘n groot bedrag kontant, is in sy besit gevind.
Die ander stel spore is gevolg maar die tweede verdagte is in hegtenis geneem toe hy by ‘n plaaswerker water gevra het. Die plaaswerker het dadelik die polisie in kennis gestel en die man wie se skoensole ooreenstem met die spore wat gevolg is, het herken dat hy renosters wou stroop.
Later is ‘n byl en ‘n flits in die veld gekry en daar is ook op die 303-jaggeweer en ammunisie beslag gelê. Twee mans is nog soek.
0 Comments