-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Ek sit en huiswerk doen op die stoep toe Oom Willy my pa kom soek. In my aardrykskundeboek is so groot prent met die aarde en die planete in hul wentelbane. Oom Willy tel die boek op en bekyk die prent met so ‘n lang arm.
“Nou wat noem mens dié?” vra hy en wys met sy vinger na die sirkels wat wys hoe die planete om die son draai.
“Wentelbane, Oom Willy.”
“Die sirkels laat my nou aan iets dink. Ek het ook al 'n wentelbaan gesien.”
Hier kom 'n storie, weet ek en maak sommer die skoolboek toe en hoop Pa kom nie nou al nie want net-nou is hy haastig en dan vertel Oom Willy nie die storie klaar nie.
“Dit was seker so jaar of twee na die bek-en-klou toe ons nog maar swaar getrek het. Jy weet, ek het baie beeste en skape gehad voor die epidemie. Amper alles verloor. Net die grond kon ek red en toe moes ons voor begin. Gelukkig het my pa my mos geleer dat 'n man met 'n geweer nooit hoef honger te ly nie en so is ek die veld in om iets vir die pot te gaan skiet.
Dit was ander jare daardie. Dit het goed gereën maar vee was skaars. Alles het uitgevrek met die bek-en-klou en droogte. Ek het net twee patrone oor gehad en dit was nog maklik 'n maand of wat voor iemand weer dorp toe sou gaan. Die veld was maar aan die geil kant en ek wou nie sommer net skiet nie. As ek skiet, moes ek raak skiet want as mens mis en net een patroon oor het, dan kan jy maar weet dit gaan sleg.
So kom ek by die onderste kamp waar daar so baie van die groot tuitmiershope is. Dis met dié dat ek die rooibokram nie dadelik gesien het nie. Hy en die miershoop is so byna dieselfde rooierige kleur en toe ek so kyk, toe sien ek, ta staan botstil reg agter die miershoop.
Net sy twee horings steek weerskante van die miershoop se tuit uit. Dit is kompleet asof die meneer alte goed weet ek kan hom nie skiet solank hy so staan nie. Hy roer nie en as ek bietjie regs gaan dan skuif hy ook so bietjie sodat die miershoop netjies tussen ons bly.
Maar kyk, toe vererg ek my vir die astrante ram en gaan sit op 'n stuk stomp so ent weg om 'n plan te bedink. Dis toe met die wat ek die geweer van my so bekyk dat ek ook aan die skool se dinge dink. Ons het ok darem daai jare al van wentelbane en goed geleer. Rooibok se kind gaan vandag 'n les geleer word sonder dat hy in die skool was.
Gelukkig was dit 'n baie warm dag in die Bosveld want toe ek begin om die geweer se loop so bietjie vir bietjie te buig, toe kan ek voel die yster is nie te hard nie. Nou kyk, mens torring mos nie sommer net aan 'n geweer se loop nie maar ons het vleis nodig gehad en hier staan die bok nog altyd agter die miershoop vir my en lag.
Ek buig-buig die warm loop so bietjie oor my knie. In my kop maak ek vinnig ‘n paar somme en toe reken ek dat die geweer se loop nou genoeg gebuig is om daardie parmantige ram reg agter die miershoop te klits.
Ek vat toe ook sommer dooierus van die stomp af en lê aan op die middel waar ek weet die ram se kop is. Toe die skoot klap, toe lyk dit net soos daardie prentjie in jou boek en daar trek die koeël. Ek het die loop lyk my net so 'n rapsie te min gebuig want toe moet ek en daardie rooibok altwee tjoepstil staan. Die koeël is toe in so 'n wentelbaan om my en die bok. Jy kan die sommer so hoor hoe fluit dit elke keer as dit verbykom. Ek het gestaan en die vervlakste bok het gestaan. Hoe lank weet ek nie maar naderhand was my lyf skoon seer van die stilstaan. My rug het ek sommer so hol getrek want daardie koeël is net hier vlak agter my verby.
Die koeël het stadiger en stadiger om ons gekom en toe kaplaks in die rooi stof geval. Nog voor ek kon buk om dit op te tel het die rooibok agter die miershoop uitgespring en gehardloop dat jy net hoor takke kraak. Ek het nie eers probeer om nog 'n skoot in te kry nie. Buitendien, my geweer se loop was nou so gebuig dat ek niks in die oopte kon raakskiet nie en vir 'n bok agter 'n miershoop of 'n ding het ek nie weer kans gesien nie.
Die rooibok het nog jare op die plaas gebly. Vir 'n jagter was hy nou een maal te slim. As jy op 'n Sondag sommer vir die lekkerte rondry, dan stap meneer pronkerig rond maar Maandag as jy iets vir die pot soek, dan weet daardie bok wat jou plan is. Baie maal het 'n jagter of van die kuiermense my uitgevra oor die skelm bok wat altyd rondloop met sy stert so styf tussen sy boude vasgeknyp. Dan het ek my rug so bietjie hol getrek en gedink aan die bok wat my 'n les geleer het.
0 Comments