<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Prospekteerders in die bek geruk

 
News : 28 Jun 2013 220 Viewed 0

“Kry die breë gemeenskap byeen vir ‘n vergadering waarop julle jul planne duidelik uiteensit vir die prospektering van chroom langs die die Nylsrivier of gaan aan sonder só ‘n vergadering en u kan teenstand en probleme vorentoe  te wagte wees.”
Dit was die boodskap van Corinus du Toit van die Mokopane Sakekamer aan die drie aandeelhouers van Bushveld Chrome Resource wat verlede week ‘n openbare vergadering gehou het om hul planne vir die prospektering van chroom langs die Nylsrivier bekend te maak.
Du Toit, Carina Steenkamp en Abdul Tayob was die enigste inwoners uit die gemeenskap wat  die vergadering by die Protea Park hotel bygewoon het nadat Bushveld Chrome Resources slegs ‘n klein kennisgewing daaroor in ‘n plaaslike koerant geplaas het. Steenkamp en Tayob is van die Nylaksiegroep. Du Toit het daarop gewys dat die breë gemeenskap glad nie bewus was van die openbare vergadering waartydens hulle hul besware kon kom lug nie. Hyself het op die nippertjie eers daarvan uitgevind.
“Die klein kennisgewing in ‘n plaaslike koerant het nie gewerk nie en ek en my twee mede-inwoners is nie verteenwoordigend van die groot gemeenskap daarbuite nie. Die mense wat langs die Nylsrivier woon, is nie hier nie. Julle sê julle is bewus van daardie omgewing, maar die gemeenskap dra nie kennis van julle planne nie. Vind uit wat die besware van die gemeenskap is oor die Volspruit en Sylvania myne. Daar is ‘n hele boere-gemeenskap daarbuite wat nie hier is nie. Adverteer weer, ook by die skole en die distriklandbou-unie en hou dan ‘n vergadering. As u planne omgewingsvriendelik is, sal die gemeenskap u verwelkom.”
Evilox 396 is ‘n Suid-Afrikaanse eksploteringsmaatskappy wat met die hulp van Bushveld Chrome Resources wil  vasstel of daar chroom in die Grasvallei en Zoetveldgebied sowat 14km suid van Mokopane is.
Stewart Mc Quade, ‘n geoloog  en direkteur van Bushveld Chrome Resources wat die aanbieding gedoen het, het gesê Evilox het aansoek by die department van minerale hulpbronne gedoen  om prospekteringsregte op die twee plase Die plase is in dieselfde gebied as waar die Samancor en Grassvalley Chroommyn eens was. Die beplande prospektering sal  dus aan die oostekant van die rivier plaasvind.
Hy het gesê Evilox onderneem dat geen boorwerk op Sondae sal plaasvind nie en dat daar net in die dag gewerk sal word.  Hoewel 500m van die toegangspaaie gebruik sal word om boorwerk te doen, onderneem Evilox om die paaie reg te maak en te onderhou. Geen water en chemiese middele sal gebruik word om  boorwerk te doen nie en elke terrein sal deeglik gemonitor word.
Evilox wil ‘n monster van 150 000 ton chroom uithaal om te toets. Daar sal onder meer gekyk word of dit ekonomies vatbaar is vir ‘n potensiële grootskaalse oopgroef chroommyn. Die monster behoort nie meer as 1.5 hektaar in omtrek  te wees nie .
Evilox wil ook ‘n monster van 120 000 ton afval uit die ou kliphoop vat wat by die Grassvalley Chroom Myn  lê en toets om te bepaal of daar chroom is. Die maatskappy onderneem om als in sy vermoë te doen om stof in die gebied te beperk en die geraas te monitor.
Du Toit het daarop gewys dat daar twee aspekte is wat kommer wek. “Hoe gaan die water in die rivier die boere daar beïnvloed en wat is die effek van waterdreinering.”
Walter Murray, besturende direkteur van Bushveld Chrome Resources, het gesê die bedoeling is om te sien wat in die grond is wat ook tot voordeel van die gemeenskap kan strek. Daar is nie net nadele aan verbonde nie.
Volgens Du Toit moet gekyk word na die hier en nou en ook opgestaan word vir die nageslag. McQuade het daarop gewys dat hulle as Suid-Afrikaners ‘n sosiale verantwoordelikheid het.
Murray het die vergadering afgesluit deur die versekering te gee dat daar wyer geadverteer sal word om weer ‘n openbare vergadering te hou ná afloop van die skoolvakansie sodat die groter gemeenskap  ingelig  kan word en ook kans kry om hul besware te opper. “Hierdie is totaal en anders as wat Sylvania doen. ‘n Verwagting moet nie geskep word dat hier nou ‘n chroommyn binne ‘n paar maande gaan wees nie.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube