-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Winkeleienaars en verbygangers is omgekrap oor ‘n verstopte rioolpyp in Retiefstraat wat hul al meer as ‘n maand na hul asems laat snak.
Die rioolgat – oorkant die Mogalakwena munisipalaiteit – het nie ‘n bedekking op nie en die rou riool spoel daaruit in ‘n parkeergebied in die straat.
Helgard Aucamp, ‘n oud-loodgieter, het aan Noordelike Nuus die gebied gaan wys. Hy woon daar naby en stap byna daagliks verby die riool. “Ek kan die stank nie langer verduur of daarin vaskyk nie. Dit lê net daar en niemand doen iets nie. Ek is seker die munisipaliteit se werkers stap hier verby en sien dit.”
Met Noordelike Nuus se besoek was dit duidelik dat motoriste nie naby die gemors wil stop nie. Verbygangers het beaam dat die riool al vir lank uit die pyp tot in die parkeergebied in die straat vloei. Die winkeleienaars wat sake naby die pyp doen, is omgekrap oor die stank en omdat hul kliënte in die rou riool moet vaskyk. Hulle meen dit skep ‘n slegte beeld.
Die een eienaar sê ‘n kafee maak binnekort sy deure langsaan oop en hy kan nie dink dat dié eienaar tevrede gaan wees om so sake te doen nie.
Noordelike Nuus het die munisipaliteit Maandag gekontak en ook foto’s aan Malesela Selokela, hoof van kommunikasie, gestuur. Hy het beloof om die saak met die tegniese dienste department op te neem.
0 Comments