-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE - Dit was sy lewensdroom om ‘n polisieman te wees, sê Wessel Geldenhuys nadat hy aan die einde van verlede maand na meer as 35 jare diens uit die polsiemag getree het.
“My passie was nog altyd om mense en gemeenskappe veilig te hou. My pa was in die polisie en hy was vir my ‘n groot inspirasie, my mentor, asook my eerste bevelvoerder,” vertel hy.
Vir die grootste deel van Wessel se loopbaan was hy aan stuur van sake. Hy het vir 23 jaar as bevelvoerder by verskeie stasies diens gedoen. In 1993 het hy en sy familie vanaf Dwaalboom na Ellisras verhuis. Hier was hy vir 16 jaar stasiebevelvoerder.
“My pligte het ook ingesluit om onder-steuning te bied aan ses ander polisiestasies (Saamboubrug/Tolwe/Tomburke/Witpoort/Villanora en Bulgerivier) en die gemeenskappe in daardie gebiede. Vanaf 18 Mei 2009 was ek waarnemende-gebiedsbevelvoerder tot April 2010, waarna ek die pos beklee het as misdaadvoorkomingsbevelvoerder vir die Lephalale distrik.”
Oor sy hoogtepunte en laagtepunte as polisieman in Lephalale sê hy: “Die grootste uitdaging was die groei van Ellisras/Lephalale met die Medupi-projek. Hoogtepunte was misdaadvoorkoming en inhegtenisname veral wanneer dit kom by plaasaanvalle en dwelmhandel. Hier was die gemeenskap se hulp, samewerking en ondersteuning prominent. ‘n Laagtepunt was die politieke invloed wat soms polisiewerk ingeperk het.”
Tog was die uitdagings en struikelblokke nie die rede vir sy uittrede nie. Wessel vertel dat hy in 2010 oppad na ‘n misdaadtoneel in ‘n baie ernstige motorongeluk betrokke was. “Ek het nooit volkome van my beserings herstel nie, en het daarom besluit om uit te tree. Ek hou my tans besig met my vervoeronderneming en help waar ek kan by Leka Reka as ‘n nutsman”.
Wessel bedank die Lephalale-gemeenskap vir hulle ondersteuning tydens sy diens in die polisie. “Ek wil net dankie sê vir al die ondersteuning en samewerking wat ek, Gerda en ons seuns ontvang het van die gemeenskap en die ander polisiestasie areas. Ek, Gerda en ons kinders - 2 seuns en 3 dogters - is gelukkig om in Lephalale aan te bly.”
0 Comments