-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Beweerde swak diens by die polisie se gemeenskapsdienssentrum is hierdie week tydens Mokopane se gemeens-kapspolisiëringsvergadering uitgelig. Net een polisiebeampte om die lang tou mense by die sentrum te help, wek kommer volgens die belanghebbendes wat die vergadering bygewoon het.
Andy Goetsch, voorsitter van die GPF, het gevra dat ondersoek ingestel moet word om meer mense aan te stel. Bekwame mense is nodig. Die beamptes gaan nie die identiteitsdokumente behoorlik na voordat hulle dokumente sertifiseer nie.
Een van die inwoners het daarop gewys dat dit vinnig is om dokumente te stempel, terwyl die mense lank moet wag as iemand in dieselfde tou, ‘n klag indien. Verskeie vorms moet dan eers voltooi word.
Theo Louw van die Valke Buurtwag het vertel hy is al gevra om sy eie inkstempelblok saam te bring omdat dié van die polisie nie goed werk nie. “Die stempels is so dof dat ‘n mens dit nie behoorlik kan lees nie.”
Lt Kol. Kedibone Mashamaite het gesê daar is tans ‘n tekort aan beamptes. Sy meen egter nog ‘n beampte moet die mense ten minste kan wys waarheen hulle moet gaan vir hulp. Sy het onderneem om die saak tydens ‘n bestuursvergadering op te neem.
Die volgende GPF vergadering word op 13 Augustus om 14:30 by die Speurders-kantore in Ruiterweg gehou. Alle inwoners is welkom om te kom luister en insette te lewer.
0 Comments