-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
‘n Herrie het by die Landdroshof in Mokopane losgebreek omdat rolstoelgestremdes nie behoorlike toegang tot die kantoor vir klein eise het nie en families in gesinsgeweldsake in die ope voor ‘n besige deurpad moet sit.
Die verskuiwing van die kantore vir klein-eise, gesinsgeweld en kindersake het die administratiewe- en hofpersoneel, asook regsgeleerdes ongelukkig. Die personeel en publiek moes onlangs ‘n rolstoelgebruiker by die trappe na die kantore op- en af dra weens ‘n gebrek aan ‘n rosltoelvriendelike toegang.
Volgens die personeel waarmee Noordelike Nuus gepraat het, het Ivy Miyeni, die administratiewe bestuurder, sowat ‘n maand gelede opdrag gegee dat die kantore wat in die binnehof van die landdroshof was, verskuif moet word. Sedertdien gebruik Miyeni die gesinsgeweldkantoor as haar eie kantoor.
Om die kantoor vir klein eise te bereik moet ‘n mens drie trappe boontoe klim. Rolstoelgebruikers kan ook die lang pad volg en voor om die hofgebou na agter beweeg, maar het dan steeds hulp nodig om by die nuwe kantore uit te kom.
Volgens die hofpersoneel was daar argumente voor die verskuiwing. Die personeel vertel ‘n landdros het Minyeni onder meer daarop gewys dat die nuwe kantore ongerieflik is en probleme gaan veroorsaak.
“Haar houding was eger dat die situasie rondom rolstoele aangespreek sou word, indien dit gebeur. Vandag is hier ‘n bejaarde man wat ons heeltyd in sy rolstoel moet op en af dra en Minyeni is nie hier nie,” het van die personeel verlede week gesê.
Die personeel meen ook die gesinsgeweldkantoor wat nou in die ou stoor-kamers gehuisves word, is nie veilig nie weens ‘n besige deurpad voor die gebou. Die kinders speel in die pad terwyl die voertuie en motors van die polisie, hofpersoneel en regsgeleerdes heeltyd hier ry.
Marcelle Maritz (Van Staden), Demokratiese Alliansie wyksraadslid, het die landdroshof besoek weens die talle klagtes wat sy van die publiek oor die verskuiwings gekry het.
Sy is veral omgekrap oor die gesinne - wat ook kinders insluit - wat op die bankies voor die besige deurpad in die ope moet sit.
“Dit is ‘n teer saak wanneer gesinsgeweld betrokke is en jy dan daar in die ope moet gaan sit vir almal wat verby ry om te sien. Dit is onaanvaarbaar.”
Miyeni het ontken dat daar enige ongelukkigheid, klagtes of argumente rondom die verskuiwings was. “Niemand het by my gekla nie en ek weet nie van enige probleme rondom die verskuiwings nie.” Sy sê die verskuiwings is deur die area-hofbestuurder wat in Polokwane werk, gedoen. Sy het nie haar kantoor vir haarself gekies nie.
Sy het daarop gewys dat daar tans ‘n gebrek aan genoeg kantore vir die personeel is en daarom moet van die werkgewers kantore deel en moet die gebou agter die hof ook nou benut word. Sy ontken dat kinders op die bankies voor die besige deurpad sit of in die pad speel en sê sake rakende kinders word steeds in die binnehof aangehoor.
Volgens haar kan reëlings getref word om ‘n ander kantoor in die binnehof te gebruik sodat rolstoelgestremdes nie nodig het om die trappe te gebruik nie.
0 Comments