<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Bok is tuis in die Bosveld

 
Bok van Blerk tydens sy optrede
News : 12 Jul 2013 260 Viewed By Valerie Cilliers 0

Bok van Blerk het verlede Vrydagaand by die Bosveldfees in Lephalale opgetree en na die tyd sommer lekker met Noordelike Nuus se Valerie Cilliers gesels.

Dit is sewe jaar sedert die lied De la Rey Bok van Blerk se musiekloopbaan uit die wegspringblokke laat vlieg het en vandag bly die lied steeds een van die hoogtepunte by sy konserte. Ja, daar is Vodka en OJ en die BMX en bende, maar wanneer De la Rey begin speel staan ‘n gehoor soos dié by verlede Vrydag se Bosveldfees soos een man op en dis die groot manne wat die meeste trane af vee.
As jy vir Bok vra waarom hierdie liedjie steeds so ‘n hewige reaksie in gehore uitlok, sê hy: “Ek wens ek het geweet, dan het ek self nog ‘n paar sulke liedjies geskryf. De La Rey is tydloos. Dit is min dat ‘n liedjie vir so lank so gewild bly en ek is dankbaar dat ek die lied wat deur Sean Else and Johan Vorster geskryf is, kon opneem. Dit het my immers op die map geplaas.”
Waar was hy voor hy op die map was? Bok van Blerk of eerder Louis Pepler was ‘n rugbyspeler en konstruksiebestuurder wat daarvan gehou het om familie en vriende met sy kitaar te vermaak. “Om te vermaak en te sing is vir my ‘n passie, maar ek het dit nooit beskou as ‘n moontlike loopbaan nie. Ek was gelukkig in die boubedryf en ek is steeds besig met ‘n paar bouprojekte, maar  my lewe het ‘n ander wending geneem en nou  sal ek nie my musiekloopbaan vir enigiets anders verruil nie.
As jy so ‘n rukkie met Bok gesels besef jy gou dat hy eintlik baie goed hier in die Bosveld sal aard. Dinge wat hierdie talentvolle sanger se hart laat warm klop is die buite lewe, jag, visvang en natuurlik die Blou Bulle. Hy vertel dat hy tuis voel hier en hoewel die jagseisoen nog lank nie klaar is nie, is daar nou nie meer plek in sy vrieskas vir nog ‘n stukkie wildsvleis nie.
Daar is baie nostalgie en ‘n groot mate van empatie met die Afrikaner in sy musiek te bespeur.  Tog sien hy homself nie noodwendig as kampvegter vir Afrikaans en die Afrikaner nie. “Ja, daar is vir my ‘n platvorm om sekere kwessies aan te raak en sosiale kommentaar te lewer, maar ek probeer dit op ‘n verantwoordelike wyse te doen. Afrikaans en ook Afrikaner wees lê my na aan die hart.”
Bok is tans besig met die verfilming van twee rolprente, Vrou soek ‘n boer en As jy sing.  Daar is ook sprake van ‘n vierde film wat in Januarie verfilm sal word. “Ek was aanvanklik nie baie geneë om my lyf akteur te hou  nie, maar die mense saam met wie ek werk is fantasties en ek moet sê dit groei nogal op my.”
Bok toer ook die afgelope drie jaar, tydens die stiller winter maande, saam met Peter Mitchell met ‘n verhoogstuk genaam die Boer en die Skot. Intussen behoort sy vierde album, Steek die  vure aan, êrens in Augustus op die rakke te wees.

 

 

 
 

Bok van Blerk gesels met Noordelike Nuus se Valerie Cilliers tydens die Bosveldfees verlede week.
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube