-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die vakansie het afgeskop met die Hervormde Kerk Koedoesrand se Bosveldkarnaval op 22 Junie. Dit was weereens ‘n propvol gesinsdag met hope vermaak en watertand eetgoed, goeie gehalte vleis en groente en ‘n heerlike osbraai.
Armand en sy dansende perd was ‘n groot hoogtepunt en het almal se aandag gehad met sy flinke passies. Jay en Liani May het die die dag se verrigtinge afgesluit met ‘n optrede uit die boonste rakke.
Kuiermark
Flinke vingers en baie talent – daarvan het die inwoners van die Bosveld baie.
Die kuiermark is aangebied by Big Fig Inn op 6 Julie en was die inisiatief van Petra Ortner, Desiree Krüss, Elize Folkus en Marieta Folkus. Al die uitstallers was mense van die omgewing wat kans gehad het om hulle handewerk te kom wys. Daar was hekel, brei, bottel, skilderye, gebak en kralewerk. Nicolette van Tonder eienaar van Big Fig Inn restaurant en winkel het gesorg vir heerlike eetgoed en warm koffie in die koue. Barry Viljoen van Makro Polokwane het die manne besig gehou met whiskey proe.
Die organiseerders beoog om weer in November ‘n kuiermark te hou.
Boeredag Tolwe
Trekkers, implemente, vars groente, juwele, handsakke, heerlike eetgoed en Gretha Wiid. Gooi ‘n skaarswildveiling by en jy is by Tolwe se boeredag!
Meer as 1 200 besoekers het op 12 Julie die Boeredag besoek, wat gespog het met 110 uitstallers. Daar was iets vir almal, mans, vrouens en kinders. Gretha Wiid het die dames kom vertel hoe ‘n man se brein werk, en het ‘n paar manne rooi in die gesig gehad met haar pittige vertellings. Bennie van Zyl van TLU SA het die manne kom toespreek.
Die doel van die boeredag is om die nuutste tegnologie aan die boere bekend te stel. Die boeredag betrek ook die gemeenskap. Die
Hervormde Kerk het ‘n kosstalletjie gehad, Laerskool Unitas die koeldrank, Dinamika Skool het die snoepie beman en die VLU het gesorg vir heerlike koek en koffie. Elkeen kon só sy eie fondse insamel. Tolwe Boerevereniging onder leiding van Henk van der Walt was hierdie jaar weer die dryf agter die boeredag wat onder meer al in 2011 gehelp het met fondse om ‘n skoolbus te koop wat leerders van Tolwe na Swartwater vervoer.
Die boeredag word slegs elke tweede jaar aangebied, maar die skaarswildveiling gaan jaarliks gehou word. Hou die boerevereniging se webtuiste (www.tolwe.org) dop.
Die dag se hoofborge was BB Motorgroup, NTK Tolwe en HVDW Makelaars.
0 Comments