<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Oom Willy en die Long Tom

 
News : 28 Jul 2013 127 Viewed By Alet van der Walt 0

Oom Willy luister die storie so. “Transport staan mos vir trane en sports,” vertel Oom Willy. “Eintlik is dit baie meer trane as sports,” sug hy en gaan sit sommer op Pa se stoel om die storie te vertel.
“Die groot moeilikheid met transport is as die mense wat jou trok moet regmaak nog droogmaak ook. Na die ding met die bees se horing besluit ek en my broer mos ons gaan liewer hout ry. Dit is in die tyd toe almal begin tabakstore bou en ons kry 'n kontrak om pale op Sabie te gaan haal.
Week na week gaan haal ons 'n vrag by die saagmeule en naderhand ken ons daardie passe jy sal dink ons het daar groot geraak.
“Dis dié dat ek weet niks kom by goeie diens nie. Daardie passe het my 'n les geleer wat ek nooit vergeet het nie. Een naweek sien ons die trok het 'n diens nodig en trek by die groot werkswinkel op Tzaneen in. Hulle moet olie ruil, ghries en na die brieke kyk.
So is ons weer die Maandag op pad Sabie toe. Heel in in ons noppies want die trok is mos nou weer reg. In Lydenburg eet ons gou padkos en drink tee voor ons in die pad val.
“Nou almal weet die Long Tom is nie 'n maklike pas nie en ek sê my broer moet 'n slag die stuur vat want ek kan voel ek raak vakerig en net-nou het ons weer 'n ding soos die keer buite Warmbad. Ons is skaars uit die dorp toe maak ek ook my oë toe. Bang was ek nog nooit as my broer dryf nie en 'n man kan maar met 'n geruste hart 'n uiltjie of twee knip.
“So ent verby die Tafelkoppe hoor ek my broer skreeu en skreeu. Ek ignoreer die skreeuery so in my diepste slaap tot ek een vreeslike hou in die ribbes kry. Mens, maar toe ek so regs kyk weet ek sommer hier is moeilikheid.
“Broer is sopnat gesweet en ek sien sy kneukels sit so wit op die stuur. Met diè kyk ek vorentoe en dis net daar waar die ou swart bordjie van die AA wys dat ons nou die pas ingaan. My maag maak sommer so draai want ek dog toe vandag is die dag wat ons die Heiland ontmoet.
““Die trok se brieke is weg,” skreeu my broer terwyl hy die eerste draai vat soos ek laas gesien het Jody Scheckter maak op Kayalami. Jong, met die tweede draai dag ek ons maak dit nie want daar kom so waar as vet 'n trokkie van voor af. Die omie het seker gesien hier kom 'n ding want hy trek net betyds by een van daardie sementtafeltjies waar mens piekniek hou in.
“Ek laat sak my kop sommer so in my hande om maar weer te bid voor ons die volgende draai ingaan en hier by my voete lê die regte spanner vir brieke bloei. Ek verwens daardie mekêniek in die dorp en stuur 'n gebedjie op. Voor ek nog kan sê wat my plan is, vang broer se oog ook die spanner.
“Ek gryp die spanner toe ook net daar want ek weet, as ek nie die brieke gebloei kry voor ons by die haarnaalddraaie kom nie, is dit klaarpraat met ons.
“Nou gelukkig was ek altyd maer en topfiks anders sou julle my seker nie vandag hier sien staan het nie. Ek is sommer so met die spanner vasgebyt tussen my tande by die venster uit en toe klim ek voetjie vir voetjie vorentoe oor die modderskerm van die ou trok.
“My broer reken hy kon my later glad nie sien soos ek onder die trok in verdwyn het nie en hy het maar net die briek gepomp soos ons altyd by die huis maak en gehoop ek kom reg daar onder. Toe ek altwee die voorste wiele gebloei het, skreeu my broer vir my die brieke is nou baie beter en hy beduie ek moet terugklim.
“Ek het so geskrik ek dag by myself, so kans vat ek nie. Die brieke moet reg en basta. Ek klouter sommer dadelik agter toe. Agter was darem so effens makliker gewees want daar is so bietjie meer plek om te klou. Een ding kan ek julle vertel, as jy so onderstebo hang is die pad bitter naby. Op een plek het die teer my broek se sitvlak deurgevreet so naby was ek aan moederaarde.  
“Eers by daardie lang draai voor die Portuguese myn kon ek weer terug in die kajuit klim. Ek was sopnat gesweet en my lyf het gevoel of ek deur 'n trop wildebeeste getrap is. Elke spier het gewerk om te keer dat ek onder die trok se wiele beland.
“Terug by die huis sê ek vir my broer van hierdie transportryery het ek vir eers genoeg gehad. Broer stry ook nie en die volgende week het ons die trok in Potgie-tersrus gaan verkoop. Ek het maar weer 'n troppie beeste gekoop en broer het sy werkswinkel oopgemaak.
“Na die knoeiery met ons trok se brieke het hy besluit hy sal die manne wys hoe doen mens 'n ryding se brieke.
“Tot vandag toe reken hy die beste wat 'n stel brieke al ooit gebloei was, was daardie dag in die Long Tom.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube