<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Veelsydige uitblinker in akademie en sport

 
Kurt Kruger.
News : 07 Aug 2013 100 Viewed 0

Hy is nie net ‘n knap sportman nie, maar tans ook Hoërskool Piet Potgieter se top akademiese presteerder.
Kurt Kruger (14) is beskeie oor sy gemiddeld van 95% wat hom sommer heelbo aan akademiese presteerderslys plaas.
Hierdie  graad 8 leerder is nie net ‘n slimkop nie, maar blink ook uit in gimnastiek, swem, gholf, rugby en biathle (hardloop en swem).
Kurt vertel hy trek eers ná ses saans die  skoolboeke nader na ‘n besige dag op die sportveld. Waar baie van sy maats swoeg en sweet in die wiskundeklas, geniet hy dié vak die meeste. Hy weet egter nog nie wat hy na skool wil studeer nie, maar sal nie omgee om sy gholfstokke saam met die land se bestes te swaai nie.
Kurt het reeds Limpopo kleure in swem, gholf, biathle en gimnastiek verwerf. Hy het vanjaar ook uitgedraf as flank vir die o/14span. Hy meen die verskeie sportsoorte vul mekaar goed aan. “Gimnastiek maak my sterk wat beslis help met vlinderslag in die water.”
Sy gunsteling rugbyspeler is Pierre Spies. “Hy is ‘n goeie sportman en ook ‘n Christen. Ek hou ook  van die gholfspeler, Louis Oosthuizen.” As dit by swem kom staan Chad le Clos vir hom kop en skouers uit veral omdat hy in vlinderslag presteer.
Kurt sê sy ma, Armanda, is sy grootste ondersteuner. “Sy is die een is wat my oral heen moet karwei.” Hy is die oudste van drie kinders en sy sussie, Lené (11), presteer ook op akademiese- en sportgebied. Hy hoop sy kleinboet, Gerard (6), gaan  binnekort in hul voetspore volg.

Hoërskool Piet Potieter se top akademiese presteerders in elke graad:
Graad 8 – Kurt Kruger (95%)
Graad 9 – Monique de Sousa (93%)
Graad 10 – Gajan Devandran (80%)
Graad 11 – Jan Gerhard Venter (91%)
Graad 12 – Iné Vorster (90%)

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube