-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Inwoners van Thorny Shade Lodge wat net buite Lephalale op die Thabazimbi pad geleë is, is Saterdagoggend deur vyf gewapende mans aangerand en beroof.
Die bestuurder, Petro Erasmus en Louw Möller is albei met ysters geslaan en met 'n pistool en 'n mes aangehou nadat die verdagtes vensters gebreek het om toegang tot die woonsteleenhede te kry.
Petro het hierdie week aan Noordelike Nuus vertel dat een van die verdagtes ‘n oorgehaalde pistool op haar gerig het. Sy het die hele tyd gevrees dat hulle haar gaan verkrag en sou doodmaak as sy nie haar samewerking gee nie. “Ek het so kalm as moontlik probeer bly en vir hulle gewys waar my handsak en motorsleutels is. Dit het vir my gevoel asof hulle ons vir ure aangehou het, maar dit het eintlik alles so vinnig gebeur. Ek is oor die algemeen nie ‘n bang mens nie, maar hierdie het my geruk,” vertel sy.
Die aanvallers het Petro in haar gesig geslaan en fisies in die sitkamer rondgegooi terwyl hulle na selfone en geld gesoek het. Die verdagtes het na die aanval gevlug met selfone, geld en twee skootrekenaars wat aan kontrakteurs wat op die perseel bly maar nie die naweek tuis was nie, behoort het.
Die polisie het verskeie stelle vinnerafdrukke op die toneel gevind en die saak word ondersoek. Na bewering is die bure net die volgende dag ook beroof en die vermoede bestaan dat dieselfde groep verdagtes by dié inbraak en ook ander in Onverwacht betrokke was.
0 Comments