-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Hoe gemaak as onwettige besetters op jou grond plak? Die burgerregte-organisasie AfriForum het weens die groot hoeveelheid navrae landwyd, onlangs 'n dokument opgestel wat wenke aan gemeenskappe gee oor optrede teen onwettige besetters van hul grond.
“Dit is belangrik dat gemeenskappe ingelig is oor hulle grondregte en oor die stappe wat hulle kan neem om dié regte te beskerm,” sê Afriforum se Ian Cameron.
Die organisasie meen dat dit noodsaaklik is vir grondeienaars om dadelik op te tree indien hulle grond betree word. Cameron het verduidelik dat besetters onmiddellik in kennis gestel moet word dat hulle die eiendom onwettig betree en dat hulle die perseel dadelik moet verlaat.
Dit is ook noodsaaklik dat ‘n beëdigde verklaring by die plaaslike polisiekantoor afgeneem word en dat die polisie versoek word om die betreders te verwyder.
Volgens AfriForum kan klagtes by die Direkteur van Openbare Vervolgings aanhangig gemaak word indien die polisie nie volgens die korrekte regulasies optree nie.
AfriForum meen dat onwettige grondbesetting dikwels politieke motiewe het. Dit is as gevolg hiervan dat openbare ampsdraers en amptenare met politieke motiewe kan probeer om die proses met intimidasiepogings te ontspoor.
Landsburgers en grondeienaars moet dan dadelik klagtes van intimidasie teen die individue aanhangig maak.
“Ons wil gemeenskappe aanmoedig om deurgaans 'n professionele ingesteldheid te hê en waarsku dat hulle nooit aggressief moet optree nie,” het Cameron gesê.
Die dokument is op aanvraag van Afriforum beskikbaar.
0 Comments