-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Squirrels, die gesinsrestaurant en gastehuis net suid van Mokopane, voel deesdae meer soos ‘n tradisionele plaaskombuis met lekker boerekos as ‘n Europese kuierplek in die Bosveld. Dít is omdat Riana en Albie Olivier, op wie se grond die restaurant gebou is, die besigheid nou op hul eie bedryf.
Die restaurant en sy spyskaart komplimenteer nou die plaaswerf waarop dit geleë is. En as dit by die restaurantbedryf kom, weet die Oliviers wat hulle doen. Daarvan getuig die Watergat, die baie suksesvolle eetplek wat hulle in Burgersfort bedryf. Riana glo Squirrels sal binnekort, soos die Watergat, ook bekend wees vir sy reuse hamburgers, goeie diens en lekker atmosfeer.
Wat Squirrels lekker maak vir besoekers, is dat dit soveel meer as ‘n restaurant is. Dit is die perfekte plek vir kinderpartytjies, met plaasdiere wat gevoer kan word, ‘n tamaai klimraam en sandpit en lekker tafeltjies onder paaldakkies waar ‘n hele spul maatjies en hul eie partytjie kan hou sonder om ander gaste of besoekkers te steur.
Dis ook onder hierdie paalafdakkies wat besoekers op Vrydae middae kan kom braai. Kies vir jou ‘n biefstuk of hoender en braai lekker saam met jou vriende terwyl die Squirrels personeel vir die pap en bykosse sorg. Ja, jy kan dit by die huis ook doen, maar hier hoef Ma nie te staan en slaai maak nie en as almal huis toe is hoef jy jou nie oor die vuil braaier of die skottelgoed te bekommer nie. Én hier is ‘n kinderoppasser.
Daar is min dinge so lekker soos ‘n heerlike plaasontbyt - veral as jy dit op ‘n somersoggend in die vars buitelug kan geniet. Omdat die gastehuis personeel in elk geval vroeg al moet regstaan vir gaste wat oorbly, kan enigiemand in die somermaande al van seweuur se kant af by Squirrels inval vir ontbyt. Vir middagete is daar heerlike ‘publunches’ deur die week.
En op Sondae is daar kookkos. “Boerekos,” sê Riana.
Maar die lewe bestaan nie uit eet nie. Daarom is daar ook allerlei ander aktiwiteite wat ‘n mens by dié plek kan geniet. Saterdae is daar ‘n losgoedveiling en party naweke is die Squirrels program propvol. Die 24ste Augustus is daar byvoorbeeld ‘n musiek en markdag met ‘n skuurdans die aand en op elke eerste Sondag van die maand is daar ‘n ‘Country Show’.
So, of dit nou oggend, middag of aand - Maandag, Vrydag of Sondag is, daar is altyd iets meer as net ‘n bord kos by Squirrels. En as die skoonfamilie kom kuier en die spaarkamer is vol strykgoed kan hulle sommer in een van die 16 gerieflike kamers by Squirrels oorslaap teen baie billike pryse.
0 Comments