-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die bekende paartjie van Boer soek ’n vrou-faam, Jacobus Wentzel (33) en Ina Boshoff (30), het onlangs op Bushwa Lodge by Vaalwater verloof geraak.
Dié paartjie het op die gewilde kykNET-program, Boer soek ’n vrou, se derde reeks in 2010 ontmoet.
Wentzel het sowat ’n paar jaar gelede vertel hoe hy en Boshoff net eenvoudig “gekliek” het. Volgens Boshoff het sy nou besluit om haar werk en lewe in Bloemfontein op te gee en haar voete ’n rusplek in die Waterberge te gee.
“Ek het ’n kans gevat. Ek het besef dat die verhouding nie sou werk oor so ’n lang afstand nie,” het sy gesê.
Volgens die paartjie het dit aanvanklik moeiliker gegaan as wat hulle verwag het, want hoewel hulle dol was oor mekaar, leer ’n mens mekaar net effens ken tussen ’n klomp mense, én ’n alomteenwoordige kameraman.
“Vir Ina wat nou ver van haar familie, ’n nuwe omgewing en nuwe mense moet hanteer, kan ’n mens net respek hê. Ina is ’n baie vriendelike vrou, vol liefde en het ’n kinderlike opregtheid waarvoor ek baie lief is,” het Wentzel gesê.
Die paartjie sê dat elke verhouding se grootste uitdaging is om verskille op te los. Hulle glo dat hulle mekaar daagliks ’n nuwe uitdaging gee, en hulle het baie respek en tonne liefde vir mekaar.
Wentzel hou homself steeds besig op die plaas Tweefontein met sy Beefmaster-stoet en gemengde saaiery. Boshoff het intussen haar ondernemingsgees laat opvlam en het haar eie besigheid op die pad tussen Vaalwater en Modimolle oopgemaak. “Die Oase is ’n kontreiwinkel met ietsie vir almal. Ek hou onder meer kuns, tuisgebak en handgemaakte produkte aan. Sowat 95% van die produkte in my winkel word deur plaaslike kunstenaars gemaak. Ek probeer só die plaaslike gemeenskap ondersteun,” het sy gesê. “Ek het nog baie planne om die kontreiwinkel so interessant as moontlik te maak. Ek wil ook graag ’n slaai-kwekery begin waar besoekers hul eie vars slaai kan kom pluk. ’n Plaaswerf met diere vir kinders is ook in die pyplyn.”
Wentzel en Boshoff hoop om so gou as moontlik te trou. Hulle het nog nie op ’n amptelike datum of plek besluit nie, maar wil beslis voor die einde van die jaar voor die kansel staan. Die troue sal volgens hulle met die hulp van kykNET se Boer soek ’n vrou-faam gereël word.
— LiN Nuus/Die Pos
0 Comments