-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Kort na die bekendstelling van die boek, Pippie, in Sandton vroëer die week het Noordelike Nuus met Pippie se ma, Anice Kruger, gesels oor die boek en haar planne om volgende maand permanent terug te trek Lephalale toe.
Anice, Pippie en boetie Erwin woon tans in Johannesburg en dit sal die eerste keer sedert die ongeluk aan die einde van 2011 wees dat hulle hul weer permanent in Lephalale vestig. Pippie het verbrand nadat 'n bottel vuuraansteekmiddel in haar pa se hande ontplof het.
Anice en die joernalis Colleen Naudé het saam aan die boek gewerk. Dié week het Anice gesê die verskyning van die boek op die rakke voel nog vir haar onwerklik.
“Uiteindelik is hierdie droom verwesenlik. Dit voel soos wanneer jou water breek! Jy het solank gewag vir die baba en wanneer dit gebeur kan jy dit amper nie glo nie.”
Anice vertel sy het die boek geskryf om dankie te sê vir elkeen wat ‘n rol in Pippie se pad na herstel gespeel het. “ ’n Mens lees baie in die media oor dr. Ridwan Mia en al die ander dokters wat haar behandel het, maar daar was ook die verpleegpersoneel wat ure lank langs Pippie se bed gesit en vir haar gesing het - Pippie Heroes, noem ek hulle. Die boek is ‘n samevoeging van alles wat ons in daardie tyd beleef het en daar is ook fotos wat nog nooit gepubliseer is nie, selfs briefies wat Pippie in die hospitaal ontvang het.”
Hoewel sy baie opgewonde is oor die boek wat binnekort oral in boekwinkels sal wees, het sy self nog nie kans gesien om dit weer te lees nie. “Dit was nie maklik om dit te skryf en te redigeer nie. Ek moes weer deur baie dinge werk en verwerk.”
Die boek sal vanaf 23 Augustus landwyd in boekwinkels verskyn, maar Lephalale se inwoners kan reeds die vorige dag (22 Augustus) die boek by ‘n bekendstelling-geleentheid in die CNA in Lephalale onder oë kry. Anice sê sy en Pippie sal beslis daar wees. Die verrigtinge begin 17:30 by die CNA in die Shoprite-sentrum. Laat weet voor Maandag, 19 Augustus, vir Lerato Zako by 011 495 6946, of Jacqueline Botha by 014 763 4471 of jy dit wil bywoon.
Spesiaal vir Noordelike Nuus lesers:
Drie lesers wat voor of op 17 Augustus laat weet dat hulle die bekendstelling by CNA gaan bywoon, staan ‘n kans om ‘n getekende kopie van die boek te wen!
0 Comments