<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Belastingbom bars

 
News : 23 Aug 2013 116 Viewed By Jasper Raats 0

Landbougrond wat in die Mogalakwena munisipale area val is met 75% oorbelas sedert die nuwe grondbelastingwet in 2008 in werking getree het. Dié skokonthulling is Saterdag tydens ‘n boerevergadering in die Hanglip Boeresaal by Sterkrivier deur eiendomskonsultant en onderhandelaar, Frans Durandt gemaak.
Hy het verduidelik die wet bepaal dat nywerhede en industrieë die volle munisipale belastingstarief moet betaal, maar dat die belasting op residensiële eiendomme net 80% van hierdie tarief mag wees en die belasting op landbougrond net 25% van die residensiële tarief.
Durandt het saam met landbouleiers in die omgewing rofweg bereken dat dit onmiddelik ‘n begrotingstekort van tot R250-miljoen vir die Mogalakwena munisipaliteit kan beteken.
Durandt is ‘n oud-soldaat wat baie jare in die minister van verdediging se kantoor gewerk het. Daar was hy in sy hoedanigheid as kommunikasiebeampte nou betrokke by verskeie hoë-profiel onderhandelinge - ervaring wat hom nou goed te staan kom waar hy landbougemeenskappe help om met munisipaliteite te onderhandel oor kwessies soos munisipale grondbelasting.
Hy het namens boere in die Brits-omgewing met die munisipaliteit daar suksesvol onderhandel oor ‘n soortgelyke situasie. Daarom het ‘n vriend wat in die Mokopane-omgewing woon hom gevra of hy bereid sal wees om hier ook te help.
“In Mokopane is daar baie prosedures wat nie gevolg is met die implementering van die wet nie,” het hy Saterdag aan die boere gesê.
Vyf jaar gelede het die wet in werking getree wat bepaal dat daar ook op landbougrond belasting gehef moet word. Maar omdat daar aan boere geen dienste gelewer is nie, laat die wet toe dat boere gekompenseer word vir dienste wat hulle self moet verskaf.
Hierdie vergoeding is in die meeste gevalle vroeg in die implementeringsproses tussen boere en munisipaliteite onderhandel en in die vorm van rebatte vasgestel. Durandt het sy kommer uitgespreek dat hierdie proses nie heeltemal korek gevolg is in Mokopane nie.
Die vergadering, waar ‘n wye spektrum van georganiseerde landbouorganisasies verteenwoordig was, het eenstemmig besluit om aan Durandt ‘n mandaat te gee om namens georganiseerde landbou met die munisipaliteit te onderhandel.
Almal was dit eens dat die situasie met omsigtigheid hanteer word en dat dit in niemand se belang is om die mat eensklaps onder die munisipaliteit uit te trek deur aan te dring op onmiddellike regstelling van die tarief en terugbetaling van vorige jare se oorbelasting nie.
“Ons kan die verlede se foute gelukkig in die toekoms regstel,” het Durandt gesê.
Die Mogalakwena munisipaliteit kon nie voor druktyd Woensdag op geskrewe vrae van Noordelike Nuus in dié verband reageer nie, maar munisipale woordvoerder, Malesela Selokela, het belowe dat die munisipaliteit teen volgende week terugvoer sal lewer.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube