-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Ma is besig om ons kinders se klere reg te kry vir skool toe Pa en Oom Willy kom koffie soek. Elke skoolhemp kry so klein naambandjie op wat Ma aan die binnekant vasstik sodat ons kinders se klere nie wegraak nie. Oom Willy bekyk die merkery so met die inkomslag en voor Ma nog kan koffie aanbied, begin Oom Willy al vertel.
“Die oorle vrou het ook altyd my sakdoeke so gemerk. Kompleet met my naam en ons telefoonnommer daarby.: Maasstroom 1022, twee kortes en twee langes. Met 1983 se droogte sien ek toe mos ons gaan dit nie maak nie en ek besluit om al my beeste te verkoop. Kyk, as die riviere eers droog raak, dan weet ? man mos dis tyd vir planne maak. Ek jaag toe al my beeste vendusie toe. Die Vlakte se kopers het mekaar skoon met die vuis geslaan oor my tollies. Was tot in die koerante gewees oor die twee manne wat so baklei het oor die mooi kallers.
Ek vat toe die beesgeld en koop 'n boormasjien en nog paar stukke yster sodat ek ook pype kan trek. Vir die vrou sê ek, jy sal sien al wat mens is, se gate gaan droog raak. Ons gaan geld maak met die masjien. Die een se droogte is die ander se brood.
Om te boor en pype te trek is harde werk en elke oggend nog lank voor sonop val ek in die pad. Die vrou pak vir my 'n kosblik, 'n fles tee en bottel water in. Later het sy sommer die water gelos want ek kon 'n stuk aarde net so een kyk gee en as die boormasjien eers aan die gang is, dan is dit nie lank voor ons die aar raak boor en sommer so uit die nuwe gat drink nie.
Die manne het ook geleer, waar Willy boor, daar bring jy net die dop en die glase. Dam sal daar wel wees. Lekker dae gewees, dié boordery. Oor 'n reënery het ek my ok nie meer bekommer nie en dit weet julle, is nie maklik nie.
Ons het by Koos op die ou grondpad pype getrek toe die een pyp vassteek en nie wil roer nie. Later is dit naby middagete maar sit, die sit die pyp. Nou kyk, ons is goed grootgemaak en 'n ordentlike man het mos altyd 'n sakdoek en knipmes in sy broeksak. So, toe 'n ketting my knyp dat die bloed loop, is die sakdoek naby om die bloed te stop. Die vrou is hoeka nukkerig met my oor ons by die nuwe boorgat op Rietfontein so lank gekuier het en toe die ergste bloed stop, dag ek, 'n sakdoek vol bloed gaan soos 'n rooi lap voor 'n bul wees en ek probeer die ergste in die beeskrip uitspoel. Met die wassery skreeu Koos die pype wil terug die gat in val en toe moet ons keer vir al wat ons kan. Kyk, 'n pyp wat in 'n gat val is mos 'n lelike ding. So met die grypslag sien ek toe daar trek my sakdoek, af die dieptes in. Tyd vir bekommer oor die sakdoek is daar nie. Ons staan heelmiddag krom om Koos se pype te trek en eers toe ons oppak, onthou ek van die sakdoek wat in die gat af is.
Die vrou koel darem gou af toe sy die lelike plek aan my hand sien en sy gaan haal n boksie met drie nuwe sakdoeke uit die sideboard se laai. Was glo eintlik my verjaarsdaggeskenk maar reken sy, die ou sakdoeke lyk maar oes en sy gaan die nuwes nou vir my merk. 'n Man se sakdoek en mes moet darem netjies lyk en met die boordery is ek nou heeldag en aldag in die publiek se oog.
Desember kom die groot reëns en kyk, as hierdie wêreld reën, dan reën hy. Dingaansdag kan ons nie meer deur die slote kom nie en teen Kersdag is al wat pan is vol. Die riviere klim oor die walle en die beeste se hakskene en sterte is so groen geblerts soos hulle mis van die geil veld.
Teen einde Januarie wil niemand meer boor nie. Die veld groei dat jy hom sommer kan hoor en met al die gras begin ek toe maar weer uitkyk vir 'n klompie beeste. Dit het so baie daar by my gereën en met die wat ek nie 'n bees oorgehou het nie, kon ek later my arms reguit bo my kop hou dan raak-raak ek skaars die gras se saad.
Paasmaandag lui die foon toe ek en die vrou ons middagkoffie drink. Twee kortes en twee langes. Ek gaan antwoord want ek dag dis Daantjie wat my nuwe beeste moet kom aflaai. Man, het ek my nou amper doodgeskrik! Dis waaragtig die opsigter van die Oog op Kuruman. Eerste ding wat hy my vra is waar Maasstroom is. Toe wil die man weet of ons onlangs by die Oog vakansie gehou het. Ek sê hom toe sommer reguit in vakansies glo ek g’n niks nie en as hy nou sou dink ek sal van die een droëgat plek na die ander ry vir 'n vakansie dan moet hy weer dink.
Die mannetjie verduidelik toe dat iemand 'n sakdoek met my naam en telefoonnommer in die Oog se water gekry het en by die oord se kantoor kom ingee het. Hy weet nou nie hoe dit gebeur het nie maar ek is welkom om my sakdoek te kom haal by die dametjie wat met verlore goedere werk!”
0 Comments