-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Op die plaas Doringkopje in die Steenbokpanomgewing vind ek haar, ‘n juweel in die Bosveld. ‘n Kunstenaar wat jou asem wegslaan met haar skilderye - hartswerke wat met olieverf en kwas emosie perfek vasvang.
Plaaslike kunstenaar, Surita Steenkamp, woon al meer as 16 jaar in dié Bosveldgemeenskap en dit is hier op hulle wildsplaas dat sy en haar man, Danie, die “Centre of Hope” rehabilitasiesentrum begin het. Hulle het albei ‘n passie vir mense en ‘n hart om jong mense wat verslaaf is, te help. Dit is ook hier waar sy haar kunswerke skep en wanneer jy deur die sentrum stap kan jy nie anders as om by haar skilderye stil te staan nie. Elkeen vertel ‘n verhaal.
“Ek is ‘n mense-mens,” vertel Surita. “Omdat ek so ‘n passie vir mense het , is dit seker onvermydelik dat dit in my skilderye sal reflekteer. In die sentrum werk ek met stukkende mense en ek skilder graag hul verhale. Ek fokus egter op die positiewe emosies.”
Hoewel die werk by die sentrum, asook vrou- en ma wees haar baie besig hou, probeer sy skeppend bly. “ Ek het in die verlede soms skilderye by my laat verbygaan en ek is nou nog spyt oor sommiges wat ek nooit gedoen het nie. Ek is juis nou besig met ‘n skildery van ‘n foto wat ek 16 jaar gelede in ‘n tydskrif gesien het en nou weer opgespoor het. Dit verraai seker my ouderdom,” lag sy.
Om op ‘n Bosveldplaas te woon laat haar ook nie sonder baie inspirasie nie.
“Ek hou daarvan om met lig te speel. Die son wat deur donderwolke breek en die gras se goudgeel kleur slaan nou nog my asem weg. Ek is ‘n aardse mens en baie lief vir die Bosveld. Dit vind weer aanklank in die pottebakkersware wat ek doen wat meestal aards en eenvoudig is. In my jong dae het ek gehou van baie kleur en detail, maar nou neig ek meer na eenvoud. Daar lê geweldige
bevrediging daarin om iets mooi en elegant uit ‘n growwe stuk klei te skep.”
As deel van die rehabilitasieproses bied Surita ook gereeld pottebakkersklasse by die sentrum aan. “Daar kom nie veel by die gevoel wat ek ervaar wanneer mense wat alle hoop en vertroue in die lewe verloor het se oë lewendig word omdat hulle vir die eerste keer iets moois in hul hande hou wat hulle self geskep het nie. Daar lê soveel genesing in om met klei te werk.”
Dié wat haar ken sal vir jou sê dat Surita met haar kuns en beradershart al vele male deur God gebruik is om genesing in mense se lewens te bring. “Ek glo daaraan om die dinge wat op jou pad kom met oorgawe aan te pak en om nooit op te gee nie. Ek streef daarna dat wanneer Hy weer kom hy met goedkeuring na my sal kyk, omdat ek die talente wat hy my gegee het goed bestuur het en dit in die proses laat vermeerder het.”
Sturita Steenkamp bied van 24 tot 27 September ‘n pottebakkerskursus by die
Limpopo Game Lodge in Steenbokpan aan. Vir meer inligting en om jou plek te bespreek bel haar voor 10 September by 072 299 2215 of 014 7660132, of skryf aan haar by limpgame@lantic.net. - Valerie Cilliers (valerie@noordnuus.co.za)
0 Comments