-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
As Piet Lamprecht ‘n boom was, was hy ‘n Kremetartboom - groot en sterk, sê sy vier kinders. Die Bosveld lê nie verniet vol staaltjies waarin hulle pa op een of ander wyse die held was nie.
Dit is egter met leedwese dat sy familie en vriende vandeesmaand van Lamprecht afskeid geneem het. Hy is na ‘n hartaanval op sy plaas in die Marken-omgewing dood.
Sy dogter, Geraldine de Bruin, vertel daar was die keer wat haar pa agter op ‘n Land Cruiser se bak moes bontstaan omdat een van die lede van sy jaggeselskap sy “dooie” luiperd bygekom het. In Botswana moes hy een slag sy arms om ‘n buffelkoei se horings haak en verlief neem dat die koei sy bene vertrap, terwyl hy vir hulp wag.
Die koei is vroeër deur ‘n ander jagter gewond. Sy het Piet in die jagveld bestorm, met die horings gehaak en die lug ingegooi. Haar een horing is by sy bobeen in en langs sy lies uit. Daar waar hy geval het, het die koei hom verder kom karnuffel met haar pote terwyl hy haar horings vasgehou het, vertel Geraldine.
“Die buffel is net daar bo-op hom dood-geskiet. “Omdat mediese geriewe buite bereik was, het my pa se jagmaats self sy wonde daar in die bos toegewerk met Whiskey as verdowings- en ontsmettingsmiddel. Die volgende dag was hy weer agter op die bakkie in die jagveld!”
Lamprecht het ook in die sewentigerjare twee keer na mekaar die Trans Kalahari wedren saam met oorlede AP Hawken en Pottie Potgieter, gewen.Hulle het net vir die grap ingeskryf en het die hele wedren deur Red Heart Rum en Coke gedrink, sê Geraldine.
Maar Lamprecht was meer as net ‘n deurwinterde jagter en renjaer. Baie mense sal hom onthou as sakeman en boer. Hy was die jongste van die drie broers, gebore op sy ouers se plaas, Somerset-Noord naby Brits. Hy het in 1949 aan Hoërskool Brits gematrikuleer, waarna hy sy pa op die plaas met gewasse en beeste gehelp boer het.
Eers toe hy so 24jaar oud was, het hy op sy eie geboer op sy gedeelte van die erfplaas, Rosevalley en later die buurplaas, Eldorado, ook gekoop. Daar het hy ‘n ou tweedehandse vragmotor aangeskaf en vragte begin aanry Pretoria Mark toe.
In 1964 het hy homself op ‘n plot buite Mokopane, toe nog Potgietersrus, gevestig. Lamprecht het oor die jare ‘n ‘n vloot van 54 vragmotors opgebou - almal 30 ton Internationals onder die vaandel GP Lamprecht vervoer.
In 1987 het hy sy vervoerbesigheid gestaak en teruggetrek Steenbokpan toe waar hy voltyds geboer het. Hy het sy plase in 2000 verkoop omdat hy wou afskaal, maar in 2002 weer vir hom ‘n plaas in die Marken-omgewing gekoop.
Lamprecht het in Desember 2010 sy regterbeen verloor weens komplikasies wat ingetree het nadat ‘n gebarste aneurisme herstel is. Met die afsterwe van sy vrou,
Geraldine Amour Olivea Lamprecht verlede jaar het sy gesondheid baie agteruit gegaan en is hy met gevorderde Alzheimers gediagnoseer.
Sy kinders, Charmaine, Pierre, Rochelle en Geraldine, sal hom onthou as ‘n liefdevolle, regverdige pa met ‘n lag wat altyd so diep uit sy maag uit gekom het. “Hy was ons kremetartboom, groot en sterk. Die plaas is leeg sonder baas Piet, maar ons vind troos in die feit dat hy en mammie in die hemel op die mooiste deuntjies wals. Rus sag pappie!”
0 Comments