-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
“Dis ’n verskriklike tragedie. Hierdie plaas sal sonder die twee dogtertjies nooit weer dieselfde wees nie. Niks sal Bobo se plek vul nie en sy was die rede waarom my kleinkind hier kom kuier het.”
Dit is hoe die ouma van ’n sesjarige meisie die voorval beskryf waarin Sibongile (Bobo) Mahlangu (5) in ’n skietongeluk dood is. Die treurspel het op Saterdagmiddag, 24 Augustus, in hul huis op ’n privaat natuurreservaat buite Bela-Bela afgespeel. Die grootouers se twee kleinkinders het die naweek by hulle gekuier en Bobo en hul kleindogter het in die huis gespeel.
Bobo is dood nadat ’n koeël uit die .38 Special rewolwer van die sesjarige se oupa haar in die gesig getref het terwyl die twee kinders in die grootouers se kamer gespeel het. Daar is nog geen duidelikheid oor wat presies gebeur het nie en die polisie is besig om die forensiese getuienis te bestudeer om meer duidelikheid te kry.
Die meisie en haar grootouers se name word weerhou om haar identiteit te beskerm.
Volgens die ouma was dié twee kinders onafskeidbaar. “As my kleinkind hier by ons kom kuier het, was Bobo die een wat sy eerste gaan groet het. Bobo was net so tuis in ons huis en my kleindogter weer in Bobo se huis. Sy was vir my soos my eie kleindogter en sy het my ‘Ouma’ genoem.”
Die grootouers en Bobo se ouers bly ’n paar honderd meter van mekaar op die eiendom. Bobo se stiefpa, Piet Moima, en die grootouers werk reeds 17 jaar saam op die plaas. Moima is voorman en wildbewaarder en het volgens die ouma as’t ware voor hul oë grootgeword. Die grootouers bestuur die eiendom vir ’n sakegroep. Bobo se ma, Tinah Mahlangu, woon saam met haar man op die grond.
Die twee kinders het die middag in “Ouma” se inloopkas gespeel waar hulle soos “ladies opgedress” het met haar hoëhakskoene en juwele. Hulle het volgens die ouma dikwels in haar kamer “fancy dress” gespeel.
“Dit het soms soos ’n orkaan in my kamer gelyk as dié twee klaar gespeel het,” het die ouma vertel. Haar man, wat tydens die voorval rugby in die huis gekyk het, was houtgerus oor die kinders se doen en late. Die ouma was nie ten tyde van die voorval tuis nie en Bobo se ouers was in Hammanskraal.
Die grootouers vermoed dat die kinders teen die kas se rakke opgeklim het om by die oupa se hoede op die boonste rak uit te kom. Die vuurwapen was op die derde rak van bo, onder klere versteek. Die oupa het die vuurwapen die vorige aand uit die kluis gehaal en aan sy vrou gegee nadat die sekuriteitswagte op die plaas vermoed het daar is booswigte in die omtrek. Hy is saam met die veiligheidswagte na buite om ondersoek in te stel. Die grootouers het vergeet om die vuurwapen weer in die kluis te bêre.
Die ouma sê as die wapen nog op die bedkassie gelê het, sou hulle nie vergeet het om dit te bêre nie, maar hulle het dit juis die Vrydagaand in die kas gebêre sodat dit vinnig byderhand sou wees, maar buite bereik van die kinders.
Die oupa het die middag ’n skoot gehoor en gedink dit is dalk van die sekuriteitswagte wat buite skiet omdat die wagte oomblikke tevore buite die huis was. Sy kleindogter het hom egter kom roep met die woorde dat “iets vreeslik gebeur het”.
Die oupa het onmiddellik mond-tot mond asemhaling op Bobo toegepas nadat hy besef het wat gebeur het.
Die ongeluk het om 16:45 die middag plaasgevind.
Die polisie en nooddienste was volgens die ouma binne ’n halfuur op die toneel, maar Bobo was reeds dood met hulle aankoms. Die polisie het ’n berader laat kom wat dieselfde aand nog sielkundige bystand aan die twee gesinne verleen het.
Vermoedelik het dieselfde diewe wat die vorige aand op die plaas opgemerk is, die aand ná die skietvoorval teruggekeer en vyf sonpanele en vier batterye gebuit.
Die grootouers is uiters getraumatiseerd deur die gebeure en is bekommerd oor hul kleindogter se welstand. Sy ontvang tans daagliks berading, maar volgens die ouma wil sy weet of haar oupa vir haar kwaad is oor wat gebeur het.
“Dit breek ons harte,” sê die ouma.
“Daar is net soveel goed wat ’n mens nou oorweldig en ons is bekommerd oor die welstand van Bobo se ouers. Dit was ’n vreeslike ongeluk. Ons families sal saamstaan deur hierdie onbeskryflike pyn. Bid dat ons ook saam heel sal word,” het die ouma gevra. Die grootouers staan Bobo se ouers by met die begrafnisreëlings.
’n Roudiens vir Bobo is op Donderdag, 29 Augustus, op die plaas gehou, waartydens haar skoolmaats van Spa Park Primary op Bela-Bela, waar sy ’n gr. R-leerder was, van haar afskeid geneem het. Sy word môre, 30 Augustus, vanuit die Apostoliese kerk in Bela-Bela township begrawe.
Die oupa het Maandagoggend, 26
Augustus, in die plaaslike landdroshof
verskyn op drie aanklagte: nalatigheid met die berging van ’n vuurwapen, ingevaarstelling van ’n persoon of sy eiendom deur nalatige optrede en versuim om verantwoordelike aksie te neem om gevaar tot eiendom of ’n persoon te vermy. Hy het R500 borgtog
betaal en die saak is uitgestel tot Donderdag, 26 September. — LiN Nuus/Die Pos
0 Comments