-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Mikayla Robbertse wat in 2011, op vyf-jarige ouderdom deur ‘n Mosambiekse spoegkobra aan haar hand gepik is, is inderhaas verlede week na die Steve Biko Hospitaal in
Pretoria geneem toe daar vermoed is dat sy nekrose (gangrene) in haar vingertjie het.
Onder narkose het dokters besef dat dit nie nekrose is nie, maar dat die vingertjie baie spanning verduur. Hulle het besluit om ‘n plaatjie in die vingertjie te sit om dit reguit te probeer maak. Die vinger het egter heeltemal skeef getrek weens spanning op die ligamente.
Charmain Robbertse, Mikayla se voog, het hierdie week aan Noordelike Nuus gesê dat daar na baie lang konsultasies met dokters en na baie gebed besluit is om die vingertjie te amputeer.
“Dokters het ons meegedeel dat dit tot 28 operasies kan neem om die vingertjie te red. Mikayla word egter baie siek van die narkose en hoewel dit ‘n bitter moeilike besluit was, weet ons dit is die beste opsie vir haar. Sy is vir ons gespaar en daarvoor is ons baie dankbaar.”
Mikayla se operasie vir die amputasie van haar vingertjie sal op 14 Oktober plaasvind. Intussen is sy verwoed besig om beertjies en bybelboekies vir mede pasiënte in die Steve Biko kindersaal bymekaar te maak.
Charmain vertel dat Mikayla tydens haar laaste besoek 30 kinderhartjies bly gemaak het deur vir elkeen ‘n beertjie en ‘n bybelboekie te gee. “Een van die seuntjies het aan sy bybelboekie geklou en wou dit nie los nie. Hulle het hom met boekie en al die teater in gestoot.”
0 Comments