-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Ons sit en praat oor die renosters wat so doodgeskiet word toe Oom Willy en Pa kom koffie drink. “As ek nou nog 'n jong man was en nog soos lankal 'n behoorlike mes gehad het, het ek die hele renoster probleem opgelos en was ek boonop sommer skatryk ook.” Sê Oom Willy.
“Kyk ek kan mos met 'n mes kerf dat jy mooi sal moet kyk om te weet wat is hout en wat is horing.”
Ons maak ons reg vir 'n lekker storie maar Oom Willy roer eers sy koffie voor hy begin vertel.
“So ruk ná die bek-en-klou kry ons weer 'n droogte en koop ek vir my 'n groot trok. Dis nie lank nie of almal bel my om groente en beeste aan te ry. Die trok loop mooi en ek ry die een vrag na die ander. Waatlemoene, pampoene, tamaties, beeste, varke en een maal tot 'n vrag meubels toe een van die boere uitverkoop.
Groente en vrugte ry is maklik, beeste is 'n ander storie. Veral Brahmane. So laai ek een middag 'n vrag stoet Brahmane. Klein Koen se oom het goeie reën op die Vlakte gehad en het laat weet Koen kan die beeste maar by hom laat wei tot dit weer reën. Nog voor ons by die plaashek uit is, sien ek die spulletjie gaan nog baie pla op die lang pad. Dit brul en skop en kort-kort skommel die trok amper uit die tweespoorpaadjie.
Ek beduie later vir Piet wat agter op die tralies staan om die sweep te laat praat maar die trop Brahmane is nukkerig. Mos heel somer uit die rivier gesuip en nou is hul wild. Dis kompleet asof ek 'n vrag koedoes gelaai het.
Dis nie lank nie toe kan mens voel dit gaan al rowwer agter op die trok en ek stop om te kyk watter bees die moleste maak. So rooi koei met sulke dik horings gaffel al wat ander bees is en sy het die res so in 'n bondel vasgedruk.
Ek sien toe vandag is die dag wat Koen groot skade gaan kry en ek vat die sweep en klim self teen die trok se kant op. Die koei kort 'n goeie paar houe dat sy kan weet wie is baas. Ek maak my staan in die hoek van die traliewerk, nou kýk nie baie manne kan 'n sweep so sekuur laat praat soos ek nie en ek wag my kans af. Net toe die koei weer haar kop so laat sak om een van die ander by te kom, laat loop ek met die sweep. Sy steek botstil vas toe die voorslag haar op die oor raps.
Die volgende oomblik brul sy soos soos 'n leeu en voor ek nog kan skuif storm sy reg op my af. Van skone skrik kry ek vir 'n sekonde of twee nie geroer nie. Sy stamp die tralies reg onder my so hard dat ek afgly en die volgende oomblik voel ek 'n dowwe pyn. Daardie horing van haar druk sy met een kopswaai dwarsdeur my been en ek sien hoe my vel soos 'n ou padkamp tent so 'n punt maak voor die horing deursteek.
Sy ruk haar horing uit en kom weer vir my. Ek laat nie op my wag nie en voor Piet nog kan dink om te help, is ek af met die tralies en op die grond. Tyd vir pleisters is daar nie en ons val weer in die pad.
Daar is paar dinge waarvan 'n transporter nie so baie hou nie en 'n spietkop is een van hulle. Ek is al amper deur Pottiesdorp toe hoor ek 'n sirene hier agter my. Ek loer-loer so in my truspieël en ja, die duiwel met die blou ligte is op my. Ek trek af op die eerste plek waar ek kan en bly maar sit want mens weet nooit met die gereg nie. Aan sy manier van stap sien ek darem die man kom nie vir moeilikheid nie en ek maar die deur oop.
Dit was so ‘n jong mannetjie gewees. Sy gesig sommer so op 'n plooi getrek van bekommernis. Hy ‘oom’ voor en ‘oom’ agter en beduie dat die publiek gebel het want daar loop sommer so streep bloed onder die trok uit. Dalk moet ek net kyk wat skort. Seker een van die beeste reken die kêrel.
Vir so 'n oomblik dag ek ook dis seker 'n bees maar toe onthou ek van die gat in my kuit. Die ou Lorrie se vloer was deurgeroes en ek het nie agtergekom hoe erg die bloeiery nou eintlik is nie.
Die spietkop mannetjie beduie ek moet omdraai en saam met hom ongevalle toe ry maar ek keer so al wat ek kan. 'n Hospitaal sien my nie so maklik nie.
Ek hum en ha en maak of ek luister toe hy beduie waar die ongevalle is. Tyd vir dokters het ek nie. Die beeste moet by hul nuwe weiveld kom want die kalwertjies is nog klein en dis stoetbeeste.
'n Ent buite die dorp trek ek so neffens die monumentjie van die pad af en klim eers weer teen die trok se kant op en meet die koei se horing so met die oog. Ek beduie vir Piet na so lekker fris tak van 'n kameeldoring wat so ent weg staan. Kyk 'n plan moet ek maak voor een van Naboom se spietkops my ook nog kom pla oor die bloed. Hout dié ken ek mos darem al van ek 'n kind is en toe Piet die regte stuk hout eers vir my gebring het, toe haal ek my Joseph Rodgers uit en jy sien net boombas trek.
Ek glo nie eens daardie vervloekte koei sou die verskil tussen my stukkie handewerk en haar horing kon sien nie. Ek byt op my tande druk ek die houthoring netjies in die gat in. Pas soos 'n handskoen.
Die stuk hout het lekker knap gesit en toe ons die beeste aflaai is die are mooi toegetrek en my been weer reg soos 'n roer. Dit moet seker maar iets in die kameeldoring gewees het want toe ek terug by die huis kom en vir die vrou die lelike gat wil wys, julle sal my nie glo nie, toe is daar net so 'n klein rofie oor. - Alet van der Walt
0 Comments