-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die Lephalale Sakekamer het hierdie week bekendgemaak dat daar dalk tog wel ‘n lig aan die einde van die tonnel vir ontwikkelaars in Lephalale kan wees. Noordelike Nuus het vroeër berig dat die Lephalale munisipaliteit geen krag aan nuwe bouprojekte kan voorsien tot einde 2015 nie. Verskeie ontwikkelaars wat reeds sertifikate vir kragvoorsiening in hul besit gehad het, het ook gehoor dat daar nie vir hulle krag is nie.
Die Lephalale Sakekamer het egter nie die saak daar gelaat nie en kon ná ‘n ondersoek wys dat die munisipaliteit 2,5 MVA onnodig gereserveer het vir die waterpypleiding projek. Na gesprekvoering met die raadgewende ingenieur op die projek is dit bevestig dat die krag nie in die afsienbare toekoms vir die pypleiding nodig sal wees nie. Volgens die Sakekamer is daar tans in totaal sowat 13 MVA beskikbaar.
By ‘n onlangse vergadering tussen ontwikkelaars en die munisipaliteit is die gereserveerde 2,5 MVA aan ontwikkelaars wat reeds kragvoorsiening sertifikate besit toegesê. Volgens die voorsitter van die sakekamer, Wayne Derksen, is daar sowat 500 eenhede, wat huise en woonstelle insluit, wat sodoende krag sal kry. Dit sou beteken dat 10,5 MVA beskikbaar behoort te wees vir nuwe ontwikkeling.
Volgens Derksen het dit aan die lig gekom dat 40 MVA in November 2014 by die netwerk gevoeg sal word en teen November 2015 behoort Lephalale se kragvoorsiening verdriedubbel het.
Voorsitter van die munisipale beplanningskomitee, Astrid Basson is egter nie so optimisties nie. Basson het die week aan Noordelike Nuus gesê dat die munisipaliteit in 'n vergadering met Eskom Distribusie, Coghsta en Aurecon aangeraai is om nie nog krag aan nuwe ontwikkelings te gee nie. "Eskom het dit duidelik gestel dat die 2 MVA wat beskikbaar geraak het genoeg is vir ontwikkelings wat reeds skriftelike ondernemings met die munisipaliteit het maar dat die netwerk te onstabiel sal wees indien verdere krag uitgedeel word," sê sy. “Dit help nie die munisipaliteit probeer ontwikkeling aan die gang hou ten koste van inwoners wat dan vir dae aaneen sonder krag kan sit as gevolg van ‘n onstabiele krag netwerk nie.”
“Eskom het onderneem om te poog om 40 MVA krag vanaf die nuwe Lephalale-substasie teen November 2014 beskikbaar te stel. Planne wat tot op daardie tydstip goedgekeur word, word goedgekeur met die voorwaarde dat geen krag beskikbaar is nie.”
0 Comments