<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Gimnastiek-manjifiek!

 
News : 24 Oct 2013 174 Viewed 0

As ‘n mens terugstaan en na die klub se prestasies oor die laaste jaar kyk, is dit duidelik dat MGC ‘n waardevolle bydrae tot die Limpopo gimnastiek-span maak. Negentien MGC gimnaste is vir 2013 as deel van die Limpopo-span gekies.
Op nasionale vlak het hulle ook beïndruk - met vier uitblinkers! Raymandi Goosen (18), ‘n WAG* gimnas is as die wenner in haar ouderdomsgroep aangewys by die SA Gimnastiek kompetisie, Suné Janse Van Rensburg (15) het goud gekry vir hoepel en was derde algeheel, terwyl Lize Janse van Rensburg tweede met haar vloer en derde met haar sprong was. Melody Raats (10) en Lungile Mhlungu (9) het beide hul ouderdomsgroepe in die Noordstreek SA Gimnastiek kompetisie gewen.
Aan die begin van 2013 het Minda be-sluit om terug te staan en haar kinders, Richard (22) en Marinda (20) die geleent-heid te gee om die gimnastiek klub te bestuur. Die twee afrigters het hulself bewys as sterk leiers en knap bestuurders. “Om hul sukses te sien in die groei van die klub en in die prestasies van hul gimnaste, vul ons met dankbaarheid en is vir ons almal motivering vir wat nog moet kom!”

Groeiproses
Thomas en Minda Marshall het 14 jaar gelede Mokopane toe getrek. Thomas, stigter en pastoor van die Destiny Alive- kerkgroep, het die grond vir die RET-Sentrum op die hoek van Geyser- en Fouriestraat vier jaar gelede gekoop. Behalwe vir die reuse tent wat tans die Mokopane Gymnastics Club (MGC) huisves, is daar groot planne wat insluit die verskuiwing van die Mokopane Destiny Academy (‘n privaat skool van Graad 0–12), ‘n kantoorgebou en ‘n auditorium.
“Ons het destyds tuisonderrig gedoen en was op soek na ‘n sport vir ons kinders,” vertel Minda. Sy noem dat alle sportsoorte in die dorp skoolgebonde was en dat daar nie baie buitemuurse opsies was soos vandag nie. Thomas en Minda het hulle drie kinders, Richard, Marinda en Stephen by die Zani’s Gimnastiek Klub in Polokwane ingeskryf en vir sewe jaar lank heen-en-weer gery vir klasse.
“Ons het toe die geleentheid gekry om 
voetstoots die meeste van die nodige apparate by Waterberg Hoërskool aan te koop. “Met die ondersteuning van my man en drie opgewonde kinders het ek kans gesien om die droom van MGC te begin bou.”
So is die gimnastiek klub begin, eers in die stoeiklub in Fouriestraat, met Minda, ‘n gekwalifiseerde afrigter wat op die dorp gebly het, Richard as junior afrigter op 16-jarige ouderdom en vier gimnaste. Vandag spog die klub met bykans 100 gimnaste!
“’n Groot deel van die besluit om die klub te begin was omdat dit vir my ‘n manier was om deel van my gemeenskap te word, mense te leer ken ‘n positiewe bydrae tot kinders en hulle gesinne se lewens te maak.”
Na vier jaar was dit tyd vir die MGC om na hul tuiste te trek by die RET Sentrum. Met die hulp van die Destiny Alive mense het, wat dalk eers onmoontlik gelyk het, moontlik geraak. “Die massiewe tent, was die perfekte oplossing vir die gimnastiek klub,” sê Minda. Sy en Thomas het dié tent tydens ‘n jeug konferensie in Switserland gekoop. Die tent is na SA verskeep en in ‘n japtrap was die betonvloer gegooi, die tent opge-
slaan en die klub gereed vir aksie. Die tent dien as huis vir Destiny Alive en hier word ook weekliks gimnastiek klasse aangebied.
Die klub bied tans artisties en ritmiese gimnastiek vanaf kleuters (Funastics) tot op senior vlak. Die jongste van die Marshall-kroos, Stephen (17), is tans die bes-gekwa-lifiseerde gimnas in Limpopo op vlak 8 (hy is ook ‘n hulp afrigter by MGC).
Marinda, wat self tot en met vlak 6 ritmies gekompeteer het, rig al junior gimnaste af vandat sy 13-jaar oud was. Richard het tot en met vlak 7 seuns artisties gekompeteer. Marinda is die dames afrigter vir dogters artisties en ritmies, met Hanell Janse van Rensburg as assistent ritmiese afrigter, en Richard is die seuns-artisties en tuimel afrigter, met Stephen as sy assistent.

Uitdagings
Die onderhoud van apparate bly ‘n uitdaging. Gimnastiek, veral op senior vlak, is vreeslik apparaat-intensief. Apparaat moet ten alle tye aan die hoogste veiligeheidsstandaarde voldoen, en daarom is onderhoud van groot belang. “‘n Nuwe dames brug vir ons vlak 4 gimnaste gaan ten minste R20 000 kos,” sê Minda. 
“Ons kyk na ‘n fondsinsamelingsprojek volgende jaar om ons te help om geld in te samel vir apparate wat aangekoop moet word. Ons wil baie graag senior gimnaste selfs beter oplei, maar in SA is daar nie baie borgskappe vir gimnastiek nie,” verduidelik Minda. Marinda en Richard beaam dit en glo dat daar baie potensiaal in Limpopo is – veral in MGC self – en hulle sal dit graag wil ontgin.

Afrigting
Tans is Richard en Marinda besig om hul afrigtersvernuf te verbeter. Die twee het in September ‘n Afrigters Ontwikkelingsprogram voltooi wat deur die SA Gimnastiek Federasie, asook SASCOC, onderskryf word. Die program sal hulle in staat stel om ander afrigters op te lei en die sport te bevorder.
Richard droom om eendag ‘n ten volle toegeruste sportsentrum in Mokopane te bedryf. Met ‘n belangstelling in biokinetika, het Richard ook sy lyf innoveerder gehou en het ‘n spesiale ‘GymQube’ ontwerp. “Dit is ‘n klimraam wat op gimnastiek-beginsels gebaseer is en wat aan kleuterskole bemark word,” verduidelik hy.
“Onderwysers sal dan opgelei word om dit te gebruik om fisiese ontwikkeling van kleuters te bevorder.”
“Daar is vreugde daarin om te sien hoe ons gimnaste groei – om ‘n goeie gimnas te wees verg baie oefening en toewyding,” sê Marinda. “Gimnastiek bevorder liggaamsbou, krag, soepelheid, spoed, balans, en help met koördinasie en fyn-motoriese ontwikkeling.” 
“By MGC help ons bou aan ‘n sterk
karakter vir elke kind wat deur ons klub
beweeg en dit maak my oneindig trots om te sien hoe hulle presteer, maar ook selfstandig word,” sê Marinda.

* WAG - Women's Artistic Gymnastics

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube