<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Met kapmesse aangeval

 
Die Trotskie-gesin het 'n noue ontkoming gehad toe hulle deur booswigte met pangas aangeval is.
News : 24 Oct 2013 259 Viewed By Valerie Cilliers 0

Beterskap-wense het hierdie week ingestroom vir Frans en Sandy Troskie wat Saterdagaand op Vryplaas net buite Lephalale deur booswigte met kapmesse (pangas) aangeval is. Die nuus van die plaasaanval het die naweek vinnig versprei en van heinde en verre wou bekommerde vriende en familie weet hoe dit gaan. Boodskappe van sovêr as Arkansas en Texas in Amerika het ingestroom en selfs op Steve Hofmeyr se Twitter-blad is daar oor die aanval berig.
Noordelike Nuus  het Maandagoggend met Sandy in haar hospitaalbed in Montana Hospitaal in Pretoria gesels. Sy het toe reeds ‘n operasie ondergaan om die spiere en senings aan haar arms wat deur ‘n aanvaller met ‘n mes afgesny is te heg. ‘n Tien sentimeter wond aan haar bors en snye aan haar nek en oor is ook
geheg.
Sy vertel dat sy net na 21:00 Saterdagaand reeds in haar nagklere in haar kamer was. Haar kinders, Venessa (13) en Franco (11), het minute vantevore kom sê dat hulle saam met ‘n vriend na die jagkamp toe gaan stap en dat hulle gou terug sal wees. Kort daarna en met die kinders reeds uit die huis, het vier mans gewapen met messe en kapmesse by die agterdeur ingebars. Hulle het Frans in die sitkamer aangetref waar hulle hom oorrompel het.
Hy is met ‘n kapmes agter die kop geslaan en
verskeie kere met ‘n mes in die sy gesteek. Ten spyte van sy wonde kon Frans daarin slaag om een van die aanvallers te skop en sodoende uit die huis te vlug om hulp te ontbied. ‘n Aanvaller het deurbeweeg na die slaapkamer en op Sandy afgekom. Sy het met hom geworstel en met haar arms gekeer terwyl hy haar herhaaldelik met ‘n mes gesteek het. Sandy kon ook daarin slaag om haar aanvaller te skop en hy het met haar selfoon gevlug. 
Werkers wat op die plaas woon het die noodkrete gehoor en gaan ondersoek instel. Hulle het die kinders in die jagkamp aangetref en saam met hulle in die bosse naby die plaashuis geskuil. Van die ander plaaswerkers het saam met Frans teruggekeer na die huis, maar die verdagtes het reeds te voet gevlug. Frans en Sandy is per motor hospitaal toe geneem vanwaar albei oorgeplaas is na Montana hospitaal se kritieke
eenheid in Pretoria.
Gawie van Zyl, voorsitter van Agri Lephalale se
landelike veiligheidskomitee het na die voorval weereens boere gemaan om deel te raak van die noodkanaal netwerk.
“Kosbare tyd wat die verskil tussen lewe en dood kan beteken, word gespaar indien ‘n boer tydens of na so ‘n aanval hulp per radio kan ontbied. Dit gee ook sekuriteit maatskappye, die polisie en boere ‘n voorsprong om die verdagtes se spoor te volg en vergroot die kanse vir inhegtenisneming.
Provinsiale polisie woordvoerder, Brigadier Hangwani Mulaudzi het bevestig dat ‘n taakspan van Polo-kwane af gestuur is om die verdagtes op te spoor. - Valerie Cilliers (valerie@noordnuus.co.za)

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube