<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Volke Modes...die einde van ‘n era

 
Regs: Gerrie Gerber in haar jong dae.
News : 08 Nov 2013 157 Viewed By Jasper Raats 0

Die oudste besigheid in Mokopane se hoofstraat, Volke Modes, het na 45 jaar verlede maand sy deure vir besigheid gesluit. “Dis ‘n era wat verby is,” sê Merlé van Staden wat vir 28 jaar as winkelassistent daar gewerk het. “Volke modes verteenwoordig ‘n tyd van persoonlike diens en aandag. ’n Era van kwaliteit en klassieke styl.”
Merlé het saam met Noordelike Nuus by haar vriendin en eertydse werkgewer Tannie Gerrie Gerber gaan kuier.
Tannie Gerrie het die besigheid in 1968 met ‘n paar pare skoene en ‘n
ondersteunende man begin.
Sy het nie ‘n sent op haar naam gehad nie. “Ek het die bankbestuurder gaan sien en gevra dat hy sal sê ek is ‘n A-kliënt as ‘n klere verskaffer skakel om oor my navraag te doen. Hy het vir my gelag en verduidelik dat ek nie eens ‘n rekening of ‘n sent by sy bank op belegging het nie. Boonop was daar nie ‘n A-kliënt in die hele Potgietersrus nie. A-kliënte is mense soos Harry Oppenheimer, het hy my reggehelp!”
Sy het in daardie jare by John Goetsch se boutique, Nanvi, as bestuurder gewerk. “Hy wou nooit niks van skoene weet nie. Hy het gesê as ek skoene wil aankoop, moet ek dit saam met my vat as ek die dag loop.”
En so het dit gekom dat sy darem ‘n klompie skoene as voorraad gehad het toe sy later bedank om haar eie besigheid te begin. “Ek het my besigheid Volke Modes genoem. Ek wou nie my naam of die name van my man of kinders daaraan koppel nie. Dit het nie oor my of ons gegaan nie - dit was ‘n koop plek vir al die volkere en nasies.”
Tannie Gerrie vertel dat sy eers net skoene, hoede en handsakke verkoop het. “As ek ‘n paar skoene verkoop, het ek die koper gevra of ek die skoenboks kan hou. Ek het dit dan weer terug op die rak gesit laat dit darem lyk of ek nog voorraad gehad het.”
Sy het Volke Modes begin en bedryf op ‘n beginsel van persoonlike diens aan elke vrou wat daar kom uitrustings koop het. “Ek het elkeen van my kliënte se smaak, voor- en afkeure geken. Wanneer ek my verskaffers aan die Rand besoek het vir aankope, het ek uitrustings gekies met spesifieke kliënte in gedagte. Ek het elkeen se grootte en liggaamsbou geken en daarvolgens gekoop.”
Sy het dan sommer pakkies opgemaak en daardie uitrustings op sig aan die dames gestuur. “Hulle het omtrent altyd gekies om dit te hou.”
Selfs in die winkel was daar geen sprake van self bediening nie. Merlé vertel hoe elke kliënt wat daar ingekom het op die hande gedra is. “Vir die mans was daar ‘n tafeltjie om by te sit en koerant lees terwyl hy ‘n koppie koffie of tee geniet. Dan kon ons al ons aandag aan die dames wy sonder om aangejaag te voel.”
Merlé en Gerrie glo dit was hierdie persoonlike verhoudings en selfs vriendskappe met kliënte wat dames van regoor die land na Volke Modes laat kom het om klere te koop.
Volke modes het oor die jare gereeld mode parades regoor die Bosveld aangebied. Lena Peens was een van die eerste mannekyne, Annatjie Hennop wat vir Truuk gesing het, het gesing terwyl sy in Volke Modes se uitrustings geparadeer het en by een modeparade was Johan Stemmet van Noot vir Noot die gaskunstenaar.
Tannie Gerrie het Volke Modes vir 37 jaar lank besit en bedryf tot sy dit agt jaar gelede aan Linda Lourens verkoop het. Sy het daar gewerk tot op 77-jarige ouderdom.
In dié tyd is sy drie keer deur die plaaslike sakekamer aangewys as Sakevrou van die Jaar.
Merlé het tot op die laaste dag van die winkel se bestaan nog daar gewerk. “Dit is vir my baie hartseer om die plek sy deure te sien sluit, maar kooppatrone het te veel
verander en daar is nie meer plek vir ‘n Volke Modes in Mokopane nie.”
Tannie Gerrie besit nog steeds die gebou en sê ‘n nuwe huurder maak binnekort ‘n nuwe klerewinkel daar oop. “Ons wens hom seën en voorspoed toe en gee aan God al die eer en dank vir soveel jare wat hy ons deurgedra het.”
Sy het ook haar dank uitgespreek teenoor al die kliënte wat die besigheid oor die jare ondersteun het.

- Jasper Raats (Jasper@noordnuus.co.za)

 

 

 
 

Volke Modes se naambord was vir 45 jaar lank ‘n landmerk in die hoofstraat van Mokopane.
Die Personeel in die jare toe Volke Modes nog aan Tannie Gerrie Gerber behoort het. Hulle is van links voor: Gerrrie Gerber, Carina van Staden - Agter: Merlé van Staden, Enia, Villa Coetzee, Emmie en Miems Brits.
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube