-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
By die landelike veiligheidsforum (LVF) vergadering wat verlede Donderdag in Lephalale gehou is, is boere gevra om veral hierdie tyd van die jaar paraat te wees. Volgens Hans Koekemoer van die Lephalale polisie is daar die afgelope paar weke ‘n groot toename in koperdiefstal. Sonpanele is ook ‘n gewilde item onder booswigte.
Koekemoer maan ook die publiek om hulle waardevolle items te merk.
“Ons sit met trekker batterye en sonpanele wat ons nie kan identifiseer nie. Hierdie items eindig gewoonlik by ‘n openbare veiling omdat die eienaar nie opgespoor kan word nie.”
Daar is ook by die vergadering gesels oor die beveiliging van ‘n misdaad toneel. Koekemoer raai boere wat by so ‘n toneel opdaag aan om onmiddellik die toneel af te sper. Spore moet ook met bokse toegemaak word sodat die eenheid wat in Modimolle gestasioneer is die spoor kan lig. Maak ook seker dat iemand by die misdaad toneel wag hou terwyl daar vir die polisie gewag word.
Boere word ook aangeraai om seker te maak dat hulle ‘n afskrif van elke plaaswerker se ID-boekie het. Op aanvraag van die LVF is Koekemoer bereid om aan boere in wyk verband inligting te gee oor spoorsny en die beveiliging van misdaad tonele.
Onlangse brande wat in Oktober vir agt dae lank in die Lephalale omgewing gewoed het is ook by die vergadering bespreek. Kommer is uitgespreek oor die plaaslike regering se onvermoë om boere in die verband te help. ‘n Opvolg vergadering met Simon Thobane, wat aan die hoof staan van Krisisbestuur by die Lephalale Munisipaliteit, is vir Donderdag geskeduleer. Noordelike Nuus sal volgende week oor die vergadering berig.
0 Comments