<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Veediefstal forum is ook vir wildboere

 
News : 08 Nov 2013 444 Viewed By Jasper Raats 0

Wildboere in Limpopo wil deel wees van die nuwe veediefstal forum wat verlede Donderdag by Vleissentraal se kantore in Mokopane in die lewe geroep is. “Ons is nie wildbewaarders nie - ons boer met wild,” het een van die boere by die vergadering gesê.
Hy het verduidelik dat die bedryf geteister word deur diewe wat wild op kontrak basis vir ‘bosslagters’ steel. “Anders as die strikstellers wat steel om te eet, steel hierdie wilddiewe op kommersiële skaal.”
Adv. Jacques Swanepoel van die NW veediefstal forum wat die stigtingsvergadering vir die Limpopo forum gelei het, het gesê dit is elke provinsie se eie keuse wie hy deel maak van die forum, maar het gesê wild statistiek sal nie deel kan wees van die terugvoer wat die provinsiale forum aan die nasionale veediefstal forum deurgee nie.
Maar Swanepoel stem saam dat veediefstal toenemend georganiseerd raak. “Veediefstal kos Suid-Afrika R900-miljoen per jaar,” het hy gesê. “Hulle steel nie meer vir die pot nie, daar is ‘n nuwe tendens om troppe diere en veral vroulike diere te steel. Kyk maar na die onlangse geval waar ‘n man van Gauteng 163 beeste waarvan sommige stoetdiere was, hier in julle omgewing gesteel en laat slag het om te verkoop.”
Hy voorspel dat hierdie tipe van georganiseerde veediefstal gaan toeneem. Hy staaf sy voorspelling deur daarop te wys dat daar in Suid-Afrika reeds 700 000 brandmerke geregistreer is terwyl daar net 37 000 rooivleis produsente is. “Veediewe registreer eenvoudig hul eie brandmerke en verkoop hul buit op veilings.”
Hy het gesê dit is hoekom veediefstal
forums al hoe meer noodsaaklik word.
“Dit is die doel van hierdie forums om toe te sien dat veediefstal verminder deur met die polisie en aanklaers saam te werk en seker te maak sake word effektief ondersoek en dat veediewe gepaste vonnisse kry.”
En om ‘n effektiewe forum te hê, het  Swanepoel gesê, is dit noodsaaklik dat rooivleisprodusente, veediefstaleenhede, sigbare polisiëring eenhede, aanklaers, die weermag, die departement van landbou, veilinghuise, abattoirs en selfs markagente op die forum verteenwoordig word.
“In Limpopo se geval waar wildboere ook deel van die forum gaan wees is dit dalk goed om ook die
departemente van natuurbewaring en omgewingsake te betrek.”
Swanepoel egter het daarop gewys dat die vee-diefstal forum vergaderings nie kla-sessies teenoor die polisie en aanklaers moet raak nie. Die doel van die forum, het hy gesê, is om netwerke daar te stel waar inligting uitgeruil en stappe geneem word wat tot die bekamping van veediefstal kan lei.
Hierdie netwerke moet op distriksvlak op die been gebring word en dan probleme aanspreek en oplos-sings vind in samewerking met die provinsiale forum. Hoe beter en wyer die verteenwoordiging op provin-siale vlak, hoe meer doeltreffend sal veediefstal
bekamp kan word, het Swanepoel gesê.
Hy het bygevoeg by dat dit op beide distrik en provinsiale vlakke gaan oor verhoudings kweek en om betrokke partye beter toe te rus om veediefstal te bekamp.
“Aanklaers kan byvoorbeeld een dag uitgeneem word na ‘n veeplaas toe waar hulle self kan sien hoe heinings lyk, wat bedoel word met krale, hoe groot is speenkalwers ens. Baie van hierdie mense het geen idee hoe dit op ‘n kommersiële veeplaas lyk nie, maar hulle moet veediefstal sake hanteer. Hulle kan ook daarby baat om veilings en selfs slagpale te besoek,” het Swanepoel verduidelik.
Hy het gesê deur die forum kan die Polisie boere oplei om misdaadtonele te preserveer. “Baie vee-diewe kom weg omdat boere en hul werkers oor spore loop of ry.”
Swanepoel het hom sterk uitgespreek teen boere wat versuim om hulle diere te brandmerk. “Ons het nou al hoeveel gevalle gesien waar die hof troppe diere aan veediewe teruggee omdat die boere nie kan bewys dit was hulle diere nie - want daai diere is nooit gebrandmerk nie. Met sulke boere het ek nie simpatie nie.”
Hy het boere wat nie by die wette hou nie as selfsugtig beskryf en gewaarsku dat dit in sommige gevalle tot kriminele rekords vir die boere kan lei. “’n Boer wat vee sonder ‘n verwydering sertifikaat vervoer kan dit op sy rekord kry. Vir ons jong boere kan dit beteken dat hulle dan later onwelkom is wanneer hulle in die buiteland wil gaan boer - veral in lande soos Australië.”
Swanepoel het die vergadering afgesluit deur te sê veediefstal is besig om die hele rooivleisbedryf te bedreig en dat boere dit nie meer net vir die polisie kan los nie. “Dit gaan samewerking van alle partye in die omgewing verg om die probleem hok te slaan en veediewe uit ons vleisproduksie areas te verdryf, maar dit kan gedoen word.” - Jasper Raats (jasper@noordnuus.co.za)

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube