-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Dis Servaas, die afgetrede landdros, wat nou die dag die vraag vra. Ek, hy en Herman het almal klaar gewerk en ons dink eners wanneer dit gaan oor kamp.
“Ek meen,” gaan Servaas voort, “waarom sal jy dae voor jy die karavaan haak, die tent of afdak uithaal, dit ooprol en inspekteer om seker te maak dit is skoon en heel, dan weer alles mooi opvou en op hulle plek terugsit?”
Ek haal asem om te antwoord, maar met Servaas weet jy nooit wanneer het hy klaar gepraat nie. Hy storm net voort: “Hoekom sal jy sekermaak die karavaan se bande is styf, die remme werk en die yskas betyds aanskakel om dit wat moet koud bly, koud te hou?”
Teen die tyd het Herman ook by ons aangesluit. Hy het net die laaste deel van Servaas se opmerking gehoor, maar weet sommer dadelik waaroor dit gaan. “Hoekom sal jy die bed in die karavaan opmaak, die eetgoed vir die maag en drinkgoed vir die blaas inpak, klere en vuurmaakhout inlaai, jou vrou en kinders in die kar boender en sy neus in die rigting van die vakansieplek draai?”
Servaas kry weer kans om nog ’n diep uitgedinkte opmerking te maak: ‘’Hoekom sal jy al hierdie dinge doen, net om later onder die blou hemel of donker swarte naghemel in jou eie spesiale kamp te sit?”
Dis toe hier waar ek kans kry om ook iets te sé: “Mens doen dit omdat jy wil. Jy doen dit om die buitelewe te geniet en jy doen dit ook om op jou eie bed, in jou eie karavaan, te slaap.”
Die ander twee kyk na my of ek nou eers wakker geskrik het. Dis Herman wat sy kop skud en sê: “Nee, jy doen dit oorlat jy kan.” Servaas knik instemmend en voeg by: “Ons kamp wanneer ons wil. Ons is pensioenarisse en werk aan ons pense.”
Herman vryf oor sy maag asof by dors raak: “Wanneer jou karavaan op sy plek staan gemaak is, die tent of afdak is opgeslaan, die kampstoele uitgepak en die eerste kasteel klap, is jy klaar in ‘n ander wêreld. ‘n Wêreld waar niemand jou pla nie en op ‘n plek waar jy koning is. Ek was nou die dag by ‘n oord waar die temperatuur tot 40 grade gestyg het en dan moet jy nog BTW bytel. Was dit nie virrie koue ene nie, was ek nou oorle.”
“Het julle al gesien hoe gou weet die kinders waar is alles by die kampplek?” vra Servaas. Hy antwoord sommer self: “Jy het nog skaars jou karavaan se stutte laat sak en die tent uitgehaal of boetie weet waar kan hy roomys koop en sussie het al die manlike moontlikhede klaar geïdentifiseer. Vroulief vind ook gou uit waar is die sauna en die masseer lokaal.”
Herman leun vorentoe in sy stoel. “Die pa van die huis weet nog net van kamp opsit en sweet om al die tentpenne in te kry. Maar boeta, as daai penne in is en die kamp is reg, dan is dit tyd om die tweede kasteeltjie se oor te breek.”
Ek loer na die twee: “Ja en wat van daai jong dingetjie in die bikini wat by jou karavaan verby trippel?”
Servaas korrel met een oog na my: “Daaroor praat ons mos nie”. Herman klap hom instemmend op die been: “Seg jy met ‘n mondvol tanne!” - Melt van der Spuy
0 Comments