-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
“Aftrede is erg,” gesels Melt van der Spuy, oud-joernalis, redakteur en deesdae voltydse duiweboer en gereelde kampeerder. “Ek werk nou harder as ooit,” skerts hy.
Dis Oom Melt vir my. Ek was maar ‘n grootoog Standerd 9 seun toe hy as redakteur van die Noord Transvaler tyd gemaak het om my te help beplan aan my loopbaan as joernalis. En die laaste paar jaar wat ek as redakteur van Noordelike Nuus gereeld, skouer-aan-skouer, langs hom aan stories gewerk het, het hy die leiding wat hy my 22 jaar gelede gebied het, afgerond met ‘n voorbeeld wat ek hoop om na te volg tot ek die dag ook aftree.
Melt van der Spuy is wat in die pers bedryf bekendstaan as ‘n ‘gebore joernalis’. Hy het op skool reeds vir ‘Die Patrys’ geskryf. Ná skool het hy eers vir 16 jaar geboer met aartappels en graangewasse op Mpumalanga se hoëveld. Deurentyd het hy aangehou skryf vir koerante soos die Bethal Echo en die Hoëveld Rif.
In 1984 het hy die landbou vaarwel geroep en hy en sy vrou, Hanna, het na die Bosveld verhuis. Hy het hom by die Noord Transvaler aangesluit. Hy was vir ‘n klompie jare die redakteur van die SA Duiwe Nuus en die Noord Transvaler voor die uitgewersreus, Caxton, die ou Suid-Afrikaanse Perskorporasie, Perskor, uitgekoop het. Van meet af wou die nuwe uitgewer nie voortgaan met die SA Duiwe Nuus nie en kort na die oorname is die Noord Transvaler toegemaak.
In 2000 neem Van der Spuy die leisels by Laura Theron oor as redakteur van die Bosvelder. ‘n Pos wat hy tot sy aftrede twee maande terug bekleë het.
Maar soos enige goeie joernalis is dit nou maar eenmaal nie in hom om heeltemal op te hou skryf nie. Daarom is dit vir Noordelike Nuus ‘n eer en voorreg om hierdie week die eerste aflewering van sy nuwe kamp en buitelewe rubriek, Om die Kampvuur, aan ons lesers voor te hou. Geniet dit!
- Jasper Raats, Redakteur
0 Comments