<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Lang pad van herstel lê voor vir Stehan

 
Stehan saam met klein Stefan in die hospitaal.
News : 15 Nov 2013 127 Viewed By Valerie Cilliers 0

Dit kan ‘n jaar of twee van intensiewe rehabilitasie neem voordat Stehan de Kock, ‘n professionele jagter van Lephalale, weer ten volle sal kan loop, praat en normaal funksioneer. Stehan wat sowat twee weke gelede tydens ‘n frats motorfietsongeluk breintrauma opgedoen het, word tans in die Meulmed kliniek in Pretoria behandel. 
Sy vrou, Maja, vertel dat Stehan in die afgelope twee weke baie goeie vordering gemaak het. “Na net twee dae se rehabilitasie kan ek alreeds ‘n verbetering sien,” het sy gesê. “Hulle het hom gister in ‘n rolstoel vasgemaak en ek kon hom vir 45-minute buite die hospitaal in die tuin rondstoot.”
“Ek het die kans gebruik om ons seuntjie Stefan (22 maande), wat tans by sy ouma en oupa bly, te bel en Stehan het vir die eerste keer emosie gewys en ‘n sinnetjie gesê wat sin maak,” het sy vertel. “Na hy sy oë toegemaak het en die regte woorde gesoek het, het hy vir klein Stefan gesê: ‘Is jy nie al moeg daarvoor om my nie te sien nie.’”
“Ek kan sien hoe hy veg om uit hierdie ding te kom, maar ek besef dat dit tyd gaan neem,” het Maja verlede Vrydag van uit Stehan se hospitaal kamer gesê. 
Stehan wat ten tye van die ongeluk op sy kop geval het nadat sy motorfiets se voorwiel ‘n sandbank getref het, het moontlik sy lewe te danke aan ‘n vriend wat onmiddellik kardiopulmonêre en resussitasie (KPR) toegepas het. Hy was ook vir ‘n lang ruk in ‘n koma. Tog is doktors versigtig optimisties dat hy ten volle sal herstel.
“Wanneer ek om my kyk en die ernstige beserings van ander sien, kan ek net dankie sê dat hy so goed vorder. Ek besef dat hy verlam kon gewees het en nie is nie, breinskade kon gehad het en nie het nie, dat hy dood kon gewees het, maar  dat God hom gespaar het vir ons almal,” het Maja gesê.
Stehan het verlede week met ‘n ses weke rehabilitasie program begin. Na dié eerste program sal hy naweke huis toe kan gaan. “Die dokters meen dat die bekendheid van die huis hom sal help in sy herstel. Tydens die week sal ons weer terug gaan Pretoria toe vir verdere behandeling. Op die oomblik kan hulle nie ten volle met die rehabilitasie voortgaan nie, omdat hy nog baie slaap.
Maja sê dat Stehan Dinsdag met ‘n loopraam geloop het. “Wanneer hy wel wakker is doen die terapeute wat hulle kan. Hy praat nog baie onduidelik en praat nie altyd sin nie. Hulle sal hom die basiese dinge soos om weer te kan loop, sit, eet, skryf ens. van voor af leer,” het Maja, wat tans by vriende in Pretoria bly, gesê. Sy bedank graag almal wat vir hulle bid. “Ons weet God laat alles ten goede meewerk en ook hiermee het Hy ‘n plan.” - Valerie Cilliers (valerie@noordnuus.co.za)

 

 

 
 

Stehan net na die ongeluk en steeds in ‘n koma.
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube