-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
‘n Zimbabwiër wie se naam hy nie ken nie het hom genader om hom te help om skape van Johan Nortjie van Mookgophong se plaas te verskuif. Dit is hoekom hy om 03:30 die oggend van 15 Oktober verlede jaar op die toneel was toe polisie van die veediefstal eenheid en reserviste op hom en sy makkers toegeslaan het, so het Josia Makaneta Dinsdag in die verhoor van polisiereservis, Andries (Vossie) Vosloo van Mookgophong getuig.
Vosloo, ‘n lid van die groep spesialis-spoorsnyers word in die Mokopane Streekshof verhoor op aanklagte van poging tot moord op twee vermeende veediewe.
Makaneta kon nie sien wie daardie nag op hom geskiet het toe hy in die rug en aan die arm gewond is nie, maar het aan die hof vertel dat Vosloo later saam met die ambulans by sy suster se huis aangekom het en aan hom gesê het hy is gelukkig om te lewe. “Hy het gesê hy wou my eintlik doodskiet,” het Makaneta getuig.
Makaneta, John Tobagale en Johannes Rehlampo was saam met Johan Nortjé en die onbekende Zimbabwiër in die voertuig op pad vanaf die plaas, het Makaneta getuig. “Toe ons by die oprit na die lokasie kom, het daar ‘n wit bakkie voor ons stilgehou en skote is afgevuur. Ek het saam met Nortjé voor gesit. Toe ons stop het almal agter op die voertuig afgespring en weggehardloop,” het hy gesê.
Makaneta het gesê dat hy ook bang geword en op die vlug geslaan het.
Maar die volgende getuie vir die staat, John Tobogale, het die hof vertel dat hy nie gevlug het nie.
Volgens hom het hy agter op die bakkie gebly en was hy van aangesig tot aangesig met Vosloo toe dié glo op hom skiet. Hy is aan die elmboog gewond.
Tobogale het getuig hy kon duidelik sien dat dit Vosloo was wat op hom geskiet het, want daar was dakligte op die bakkie wat agter die een waarop hy was geparkeer het. Hy kon egter nie vir die hof sê hoeveel ander polisielede op die toneel was of hoeveel skote gevuur is nie. “Ek was duiselig nadat ek gewond is,” het hy gesê, maar het later getuig dat die polisie na sy mening eers lank na die skietery op die toneel opgedaag het.
‘n Derde getuie vir die staat, Johannes Rehlampo, het na Tobogale getuig dat hy ook gesien het hoe Vosloo vir Togogale skiet, maar volgens sy getuienis het Togogale weggehardloop toe die bakkie waarin hulle gery het stilhou. Hy het vertel Tobogale was ongeveer 20m van die bakkie af toe hy geskiet is.
Rehlampo het getuig dat Tobogale besig was om weg te hardloop en nie in die rigting gekyk het waar die skote vandaan kom nie. “Hy was op pad om oor die brug te hardloop.”
Hy het ook getuig dat hy gesien het hoe vier mans, waaronder Vosloo, uit ‘n 4x4 spring en die voortvlugtiges agterna sit. Op ‘n vraag of hulle al vier geskiet het, het hy geantwoord: “Hulle het gehardloop en geskiet.”
Na Tobogale se getuienis moes die saak weer uitgestel word omdat die ander staatsgetuies nie beskikbaar was nie.
Die eerste drie getuies vir die staat het gister in die Mahwelereng landdroshof verskyn op aanklagte van veediefstal wat uit die selfde insident spruit. - Jasper Raats (jasper@noordnuus.co.za)
0 Comments